Brekende Nuus
Misdaad

Meer as ’n ton dagga in Elsiesrivier gekonfiskeer

Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes het vroeg Maandagoggend meer as ’n ton dagga in ’n voertuig in Elsiesrivier ontdek. Twee insittendes is in hegtenis geneem.

Sak dagga wat deur Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes gekonfiskeer is
Dagga wat in Bellville-Suid gekonfiskeer is. Foto: Stad Kaapstad

Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes het vroeg Maandagoggend meer as ’n ton dagga in ’n voertuig in Elsiesrivier ontdek.

Dagga in Elsiesrivier in voertuig gevind

Lede van die Wetstoepassingsbevorderingsplan (LEAP) was op 16 November in Owenweg op patrollie toe hulle ’n voertuig met swart sakke oor die vensters opmerk.

Die beamptes het die voertuig afgetrek en verskeie groot sakke dagga daarin gevind. Die vrag het na raming net meer as 1 140 kg geweeg. Twee insittendes is in hegtenis geneem en na die Elsiesrivier-polisiestasie geneem.

8,4 kg dagga in Bellville-Suid

In ’n afsonderlike voorval het die Metropolisie se taktiese reaksie-eenheid Sondagaand 8,4 kg dagga in Bellville-Suid gekonfiskeer en twee mans, onderskeidelik 29 en 35 jaar oud, in hegtenis geneem.

Beamptes het inligting oor ’n groot hoeveelheid dagga ontvang en ’n perseel in Lilac Crescent deursoek. Volgens die stad het die huiseienaar verskeie versteekte sakke dagga te voorskyn gebring en beamptes daarna na ’n tweede woning verwys, waar nog dagga gevind is.

Tik en Mandrax ter waarde van meer as R1 miljoen

Die stad sê die Metropolisie se bende- en dwelmtaakspan het ook op Woensdag 11 November meer as 1,5 kg tik met ’n geraamde straatwaarde van R1 miljoen en byna 300 Mandrax-tablette ter waarde van ongeveer R14 500 gevind.

Altesaam 124 verdagtes is gedurende die week deur Metropolisiebeamptes in hegtenis geneem. Beamptes het ook agt gesteelde of gekaapte voertuie, agt vuurwapens, twee nagemaakte vuurwapens en 194 rondtes ammunisie gevind.

Verkeersbeamptes het 82 mense in hegtenis geneem, onder wie 73 weens dronkbestuur.

Die publiek kan voorvalle, noodgevalle en verdagte of kriminele bedrywighede by die stad se openbare noodkommunikasiesentrum aanmeld by 021 480 7700.

Foto’s: Stad Kaapstad