“Spreek lewe oor jou vrou en jou huwelik.” Devon Hofmeyr het hom vroeër vanoggend oor die huwelik uitgespreek en mans aangemoedig om nie toe te laat dat negatiewe opmerkings oor die huwelik hul eie siening van hul verhouding beïnvloed nie.
Hofmeyr, wat onlangs met Nikita getroud is, sê in ‘n sosialemediaplasing om met die persoon te trou wat volgens hom nog altyd aan sy sy gestaan het, is een van die grootste seëninge wat hy tot dusver ontvang het. Volgens hom het hy egter sedert sy huwelik opgemerk dat daar onder sommige mans ’n stigma bestaan dat die huwelik die einde van ’n man se vryheid en die begin van probleme is. Hy sê opmerkings soos “nou het jou probleme begin” en “jy is nie meer ’n vry man nie” word dikwels tydens kuiergeleenthede tussen mans gemaak.
Hofmeyr het mans wat op die punt staan om te trou, aangemoedig om eerder op die positiewe betekenis van die huwelik te fokus. Hy verwys na Spreuke 18:22, wat lui: “Hy wat ’n vrou gevind het, het iets goeds gevind en die Here se goedkeuring verkry.”
Hy waarsku mans ook om nie met negatiewe opmerkings oor hul huwelike saam te stem nie, selfs al word dit as ’n grap bedoel. “Jy het so ’n groot verantwoordelikheid om lewe oor jou vrou en jou huwelik te spreek,” skryf hy. Hofmeyr sê mans moenie die mening van iemand anders oor die huwelik aanvaar bloot omdat daardie persoon se eie huwelik volgens hom moeilik is nie.
Hy sluit sy boodskap af deur mans daaraan te herinner dat hulle, volgens sy geloofsoortuiging, iets goeds gevind het en deur God geseën en bevoordeel word.