Oorspronklik gebou as ’n visskuur in die laat 1700’s staan Die Damhuis in Melkbosstrand as ’n baken en dra die status as Nasionale Monument.
Waaroor die fuss? Waarom word Die Damhuis die kroon van Melkbosstrand se juwele genoem? Is dit die see-uitsig, die geskiedenis, die kos? Of, is dit net regtig ’n lekker stop vir die dwaler?
Sedert 1785
Van ‘n nederige visskuur na ‘n privaat woning tot restaurant, Die Damhuis se ryke geskiedenis het sy oorsprong te danke aan Christiaan Brand. Brand het Die Damhuis, gebou uit plaaslike klip, sand en koeimis in 1785. Daar was selfs walvis beendere gemessel in die mure! (And it stood the test of time!)

Die naam, Die Damhuis, spruit voort uit ‘n varswater dam reg voor die eiendom. Dié dam se water is gevoed deur ‘n natuurlike fontein wat vandag nog bestaan en onder Kusweg in Melkbosstrand vloei.

Kinders en vier voete welkom
Die dwaler kan gerus die hele familie saamneem. Die Damhuis is goed toegerus om kinders te akkommodeer met ‘n speel area en kinder-vriendelike spyskaart. Ouers, jy kan smul aan ‘n heerlike Damhuis dis en steeds maklik ‘n wakende ogie oor die kleingoed hou. Die speelarea is enige kind se droom en met tafels naby aan die speelarea kan kind en ouer verseker wees van ‘n Damhuis-ervaring. Net so terloops, daar is ‘n bonus vir die dwaal-ouer, naweke is daar ‘n oppasser by die speelarea.
Wat van jou viervoet kind? Ook welkom sê Die Damhuis! Bring gerus vir pooch saam, mits hy of sy op ‘n leiband is, diere vriendelik is en darem so mate van maniere het.



Spyskaart en personeel
When in Rome … en hierdie dwaler het besluit op ‘n eenvoudige stokvis en skyfies terwyl my tafelgenoot die mossels in wit wyn gekies het. Albei disse was van uitstaande gehalte, vars, smaaklik, mooi bedien en die temperatuur perfek. Die porsie grootte ruim, smaaklik en is binne ‘n redelike tyd bedien.

Ons magies was te vol vir nagereg. Wat beteken ons sal weer Melkbosstrand toe dwaal en Die Damhuis besoek, spesiaal vir ‘n nagereg. Van ‘n eenvoudige roomys en sjokolade sous tot die immer gewilde Lemon Meringue. Die soettand dwaler het genoeg om van die kies.
Personeel is vriendelik, professioneel en ken die spyskaart goed. Hulle staan ook by met ‘n warm kombersie vir daardie koeler dae. Sommige van ons wil mos maar buite sit, ten spyte daarvan dat die somerson se strale nog aan die opwarm is.
Ten slotte

Dwaal gerus na Melkbosstrand se rigting en geniet ’n eersteklas ervaring by een van die oudste geboue in Suid-Afrika en die Wes Kaap. Jy het ’n uitsig oor Tafelberg en Robben Eiland en die strand is net ’n paar 100m verder.
Besprekings word aanbeveel om teleurstelling te voorkom.
+27 21 553 0093
of
Dwaal-groete
Annette