*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) het die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) versoek om bewerings van opgeblase betalings met betrekking tot die Kimberley- psigiatriese hospitaal, te ondersoek.
Dr. Isak Fritz, LPW – Noord-Kaapse DA-premierskandidaat, het gesê: “Dit volg na bewerings van Carte Blanche dat hul bewyse het dat die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement sekere items verkry het teen pryse wat baie hoër as hul waarde is.”
“Dit sluit in die aankoop van ‘n sessitplek-gholfkarretjie teen ‘n koste van R500 000, terwyl die tarief blykbaar R250 000 is, asook die verkryging van ‘n vierwielmotorfiets teen ‘n koste van R140 000 teenoor R40 000. Bestellings vir linne, of pajamas, teen die verregaande prys van ongeveer R5 000 per stel is ook ingesluit. Die aankope laat talle vrae ontstaan.”
“Ons verstaan dat, hoewel toegangsbeheer by ‘n fasiliteit wat staatspasiënte akkommodeer van kritieke belang is, dit ook belangrik is om die beskikbaarheid van waspoeier te verseker of om stukkende heinings binne die staatspasiënte se eenheid reg te maak. Meer nog, aangesien nie een van die fasiliteite se outomatiese deure in staat is om te sluit nie, as gevolg van voortdurende elektriese probleme weens diefstal by die substasie. Dit maak nie sin dat die verkryging van die buitensporige duur gholfkarretjie bo ander, meer basiese behoeftes geprioritiseer is nie.”
“Gebrek aan versiendheid ten opsigte van die aankoop van die vierwielmotorfiets, wat aanvanklik bedoel was om die heining te patrolleer, is ook kommerwekkend. Die kritieke gebrek aan sekuriteit by die fasiliteit, tesame met toenemende vrees onder veiligheidsbeamptes wat weier om nagpatrollies op die enkelsitplek-vierwielmotorfiets te doen, het daartoe gelei dat hierdie kopies in vrugtelose en verkwistende uitgawes ontaard het. Meer nog gegewe hospitaalbestuur se oorweging om ‘n bakkie te koop sodat sekuriteit eerder nagpatrollies in groepe kan doen.”
“Afgesien van die duidelik opgeblase kostes van die linne, is die fisiese ligging van hierdie bestellings selfs meer kommerwekkend. Volgens die verslae van ‘n verpleegster is daar net een laken per bed by die fasiliteit, met geen komberse en kussingslope om van te praat nie. Wie het by hierdie linnebestellings gebaat as dit nie die hospitaal was nie?”
“Die gesondheidsorgstelsel het onder aansienlike besnoeiings aan begrotings deurgeloop en kan nie bekostig dat enige geld deur onreëlmatige hoë pryse of bedrieglike transaksies opgevreet word nie.”
“Die hoë koste wek ernstige kommer oor ‘n moontlike netwerk van verskaffers, wat optree as middelmanne wat produkte aan die departement verkoop teen opgeblase pryse. Die DA het die bewerings en ons bekommernisse by die kantoor van die ouditeur-generaal aangemeld vir ondersoek.”
“Dit is tyd dat die geesteshospitaal, wat deur die premier as monument van korrupsie gedoop is, afgebreek moet word. Diegene wat staatsverkrygingsprosesse vir persoonlike gewin misbruik, moet aan die kaak gestel word en krimineel hanteer word. Die verskaffers wat hierdie transaksies fasiliteer, moet ook op die swartlys geplaas word en pogings moet aangewend word om die geld wat aan buitensporige pryse afgestaan is, terug te kry.”
“Die DA sal die bevindings monitor. Sou enige bewyse van onregmatige optrede aan die lig kom, sal ons nie huiwer om kriminele klagtes in te dien nie.”
*PERSVERKLARING
*DIE GENOEMDE POLITIEKE PARTY HET VIR DIE PERSVERKLARING BETAAL





