MPUMALANGA. – Dokter Sifiso Vusimuzi Sibanyoni (39), wat daarvan beskuldig word dat hy dr. Nondumiso Sibanyoni (34) buite ’n gimnasium doodgeskiet het, se borgtog-appèl is deur die Mbombela-hooggeregshof van die hand gewys. Hy staan tereg op ‘n aanklag van moord met voorbedagte rade wat op 20 November 2024 gepleeg is.
Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê die dokter het appèl aangeteken nadat sy borgtogaansoek op 1 Augustus 2025 in die Nelspruit-landdroshof geweier is. Die hooggeregshof het beslis dat die erns van die aanklag en die groot openbare belang beteken hy moet in aanhouding bly. Die hof het bevind sy vrylating kan die openbare orde versteur en vertroue in die regstelsel skaad.
Die NVG het die uitspraak verwelkom en sê hulle bly daartoe verbind om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te bekamp en oortreders aanspreeklik te hou.





