Brekende Nuus
Vermiste persone

Dominee vermis – liggaam uit Vaalrivier gehaal

Foto: NHKA

GAUTENG. – Die liggaam van ’n man is Vrydag uit die Vaalrivier gehaal, terwyl die soektog na ds. Hendrik Fredrick (Hennie) Louw (56) van Drie Riviere voortgeduur het.

Louw is Dinsdag omstreeks 07:00 laas gesien nadat hy sy seun by die skool afgelaai het. Sy voertuig is later verlate op die R59-brug gevind. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het intussen Louw se afsterwe aangekondig en sy familie sy innige simpatie betuig.

Volgens polisiewoordvoerder kapt. Tintswalo Sibeko kan die identiteit van die man wie se liggaam uit die rivier gehaal is, nog nie bevestig word nie. Die identiteit sal eers deur DNS-resultate of ’n positiewe identifikasie deur die familie bevestig word.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen om die omstandighede van die voorval te bepaal. Die ondersoek duur voort.