VSA. – Verskeie Demokrate het Donald Trump beskuldig van markmanipulasie en binnehandel na hy op sy sosialemediaplatform gesê het: “DIS ’N GOEIE TYD OM TE KOOP!” vier uur voor hy die handelstariewe uitgestel het.
Lees ook: Rand stabiliseer na Trump handelstariewe uitstel
Trump het ook in die Withuis gespog oor hoe twee biljoenêrs geld gemaak het na hy die handelstariewe opgeskort het. Hy het gesê Charles Schwab, ’n finansiële belegger, het $2.5 miljoen gemaak en die NASCAR-spaneienaar, Roger Penske, $900 miljoen.
Volgens ’n verslag in Bloomberg het biljoenêrs sowat $304 miljard gemaak toe die mark verbeter het met 7% ná Trump aangekondig het die tariewe sal vir 90 dae opgeskort word.
Die Kaliforniese Demokraat, Adam Schiff, het gesê Trump moet kongressioneel ondersoek word en die Arizona-demokraat, Ruben Gallego, het ook gevra Trump en sy administrasie moet ondersoek word vir binnehandel of “ander onwettige finansiële transaksies”.
Bronne: The Independent, Metro, First Post





