NOORDWES. – Aobakwe Kenewang, Lebogang Dithejane en Mosimanegape Bogatsu, is Dinsdag op ‘n klag van die diefstal van beeste ter waarde van R400 000 in hegtenis geneem. Hulle het Vrydag in die Sannieshof-landdroshof verskyn en bly in aanhouding totdat die saak weer op 26 April voorkom.
Lt.kol. Amanda Funani sê die verdagtes het na bewering op 15 April die 40 beeste op ‘n plaas naby Delareyville gesteel.
Die veewagter het Dinsdagoggend die boer hieroor ingelig. Die spoor van die diere is gevolg tot op ‘n plaas waar hulle sonder die eienaar se wete gelaat is. Die verdagtes het die eienaar daarna gebel en gesê hulle is onderweg om die beeste te gaan haal.
Die polisie het hulle egter ingewag, in hegtenis geneem en die beeste aan hulle regmatige eienaar terugbesorg.