MPUMALANGA. – Ses verdagtes is gearresteer en ‘n onwettige laboratorium met toerusting met ‘n geskatte waarde van R20 m. is Vrydag tydens ‘n operasie in Standerton blootgelê.
Lt.kol. Magonseni Nkosi sê die verdagtes tussen 19 en 60 jaar is vermoedelik Mosambiekse burgers. Die Valke, misdaadintelligensie en die honde-eenheid het eers op ‘n pakhuis in die industriële gebied toegeslaan waar daar op chemikalieë afgekom is. Vier verdagtes, insluitend ‘n werkgewer, is in hegtenis geneem. Daarna is meer chemikalieë en toerusting wat glo vir die vervaardiging van dwelmmiddels gebruik word op ‘n nabygeleë plaas aangetref. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Die geskatte waarde van R20 m. sal bevestig word nadat ‘n analisering gemaak is. Die forensiese wetenskaplaboratorium se chemiese afdeling is vir ondersoek op die toneel teenwoordig.
‘n BMW X5 wat aan een van die verdagtes behoort, is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





