GAUTENG. – ‘n Dwelmlaboratorium met ‘n geskatte waarde van R80 m. is Donderdag op ‘n kleinhoewe in Douglasdale, Johannesburg, ontdek.
Lt.kol. Mavela Masondo sê die polisie het buiten die dwelms en toerusting twee ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie van hoëkalibervuurwapens, windbukse en nagemaakte vuurwapens gekonfiskeer. Twee onwettige immigrante is op die toneel in hegtenis geneem.
Masondo sê die kleinhoewe is vir verdagte aktiwiteite gemonitor. Donderdagoggend het die polisie ‘n deursoekingslasbrief uitgevoer en op die dwelmlaboratorium wat vir vervaardiging gebruik word, afgekom. Chemikalieë, toerusting en klaargemaakte dwelmprodukte is gevind.
Lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale kommissaris, het die suksesvolle operasie geprys.
“Meer as 10 dwelmlaboratoriums is die afgelope vyf maande deur die polisie in Gauteng ontdek. Dit is genoeg bewys dat ons vordering maak in die identifisering en afbreek van dwelmlaboratoriums in ons provinsie. Ek is trots op my lede wat met ywer gewerk het om die bestaande dwelmlaboratoriums in ons provinsie te identifiseer en toe te maak.”
Masondo sê die verdagtes sal na verwagting binnekort op aanklagte van vervaardiging van dwelms en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die plaaslike landdroshof verskyn.





