GAUTENG. – ‘n Vermeende Nigeriese dwelmmuil is Vrydagaand met dwelms met ‘n geskatte waarde van meer as R13 m. op OR Tambo Internasionale Lughawe (ORTIA) betrap.
Brig. Athlenda Mathe sê dit bring die aantal dwelmmuil-verdagtes wat binne twee maande by dié lughawe gearresteer is, op nege te staan. Tydens die inhegtenisneming is meer as R13 m. se dwelms, wat R12 m. se kokaïen insluit, gekonfiskeer. Die verdagte het pas van Sao Paulo met ‘n aansluitingsvlug na Nigerië geland. Hy het ‘n skoonmaker ontmoet en lugredery-oorfone oorhandig. Die kokaïen is in die oorfone gevind.
Die verdagte beweer hy verkoop as ‘n straatsmous in Nigerië klere en skoene wat hy in Brasilië aankoop.
“Hierdie aspek word deur die polisie ondersoek om te bewys dat dit moontlik as ‘n lokmiddel deur hierdie dwelmhandelaar gebruik word.”
Die skoonmaker word deur die polisie gesoek.