TRONDHEIM – Schalk Cloete, navorser, woon in Trondheim, Noorweë.
FiND iT het by hom verneem wat die effek van die koronapandemie op sy omgewing en persoonlike lewe is.
Hy wys ook vir ons hoe dit buite sy blyplek en nabye omgewing lyk.
Waar woon jy?
“Trondheim, Noorweë.”
Wanneer en hoe het die Covid-uitbraak ‘n effek, indien enige, op jou lewe begin uitoefen?
“Van die 11de Maart moes ons van die huis af te werk. Ek voel amper half skuldig hieroor, maar hierdie home office metode pas my so goed dat ek die afgelope ses weke baie positief ervaar het.”
Hoe hanteer julle land dit?
“Beter as die meeste ander. Ons infeksies is redelik hoog in proporsie met die hoeveelheid mense, maar die sterftes is laag. Die hoeveelheid mense in die hospitaal is nou aan die daal en die mediese sisteem was nooit oorlaai nie. Ons sal maar moet sien hoe ons vaar ons nou dat die land weer stadig maar seker oopgemaak word.”
Gaan jy uit met ’n masker en hoe werk dit as jy wil gaan inkopies doen?
“Nee, ons hou maar net mooi afstand van mekaar af. Ek dink ‘n masker help net om te keer dat mens ander mense besmet as jy hoes of nies. Ek dink nie ek het al een persoon sien hoes of nies in die laaste maand nie. Daar is ‘n Noorse woord ‘dugnad’ wat basies beteken vrywillige werk om die gemeenskap te help. Hulle praat baie van die groot landwye dugnad, so ek dink dit help dat mense wat enigsins hoes of nies hulleself isoleer om te keer dat die virus versprei.”
Hoe lyk julle winkels nou?
“Redelik soos normaal. Net met handewasstasies en tekens wat mense herinner om 1 m afstand te hou.”
Watter werk doen jy en word jy tans ten volle betaal?
“Ek werk as navorser en word nog teen volle betaal. Ek werk gelukkig met simulasies, so dit kan ek net so goed van die huis af doen as in die kantoor. Ons hou ook baie effektief vergaderings deur Microsoft Teams. Ek hoop regtig die wêreld besef na hierdie ervaring dat mens nie so baie met jou kar hoef rond te ry nie en dat ‘virtual mobility’ ‘n baie beter opsie is. ‘n Groot deel van my navorsing is op volhoubaarheid van die menslike samelewing en dit is een groot positiewe punt wat dalk uit hierdie uitdagende ervaring kan kom.” Lees meer hieroor in hierdie artikel: https://energypost.eu/behaviour-change-covid-19-lockdown-kicks-open-the-door-to-a-net-zero-pathway/
Hoe dink jy doen julle land dinge anders as bv. Suid-Afrika?
“Natuurlik die groot verskil tussen Noorweë en Suid-Afrika is baie minder mense en baie meer ontwikkeling. Dit beteken ons hier het nie die groot risiko van onbeheerde verspreiding van Covid-19 in arm gebiede waar mense dig op mekaar lewe nie. Dis hoekom ons nooit in totale lockdown hoef te gaan nie.”
Hoe ervaar jy hierdie ongewone tyd?
“So positief dat ek eintlik skuldig voel. My werk pas baie goed by hierdie stelsel van uit die huis uit werk en ek kan steeds baie goed kommunikeer met my medewerkers. Daar is in die algemeen minder goed wat my aandag aftrek sodat ek beter vordering kan maak. Goeie vordering maak my baie gelukkig.”
Watter raad het jy vir mense wat weke lank in hulle huise ingeperk tydens lockdown is?
“Gebruik die tyd vir persoonlike groei. Dis nie maklik nie, maar as jy hierdie tyd as ‘n belegging kan sien, kan dit jou lewe heelwat verbeter op die lang termyn.” Meer in hierdie artikel:https://medium.com/happy-healthy-wealthy-productive-sustainable/10-great-ways-to-grow-in-lockdown-4176aca15dcd
Waar lees jy jou nuus elke dag? Hoe bly jy op hoogte? En in kontak met jou mense in Suid-Afrika?
“Ek kyk daagliks na die Covid-19 statistiek vir Noorweë en die wêreld. Verder lees ek af en toe ‘n storie op Medium.com. Maar ek spandeer eintlik baie min tyd hieraan, omdat daar baie min is wat ek daaraan kan doen. Ek Skype elke oggend om 6:30 met my ouers. Dis al ‘n lang tradisie wat ons almal so ver kry om elke dag mooi vroeg op te staan. My pa gee my altyd die nuutste SA-koronagetalle, so ek hoef nie enigsins daarvan te lees nie.”
Hoe dink jy gaan die pandemie die ekonomie van julle land beïnvloed?
“Dit sal maar seer maak, hoofsaaklik as gevolg van die val in die olieprys. Baie sal afhang van hoe effektief ons weer aan die gang kan kom sonder ‘n ernstige relapse. Die volgende paar maande is dus baie belangrik.”
Wat van die tyd staan vir jou uit?
“Eerstens die bewys dat die wêreld groot leefstylveranderinge kan maak as dit regtig nodig is. Sulke veranderinge is werklik nodig vir volhoubaarheid en ‘social justice’ so dit gee my hoop dat ons sal kan verander voor dit te laat is. Tweedens, net hoe effektief mens van die huis af kan werk as jy meeste van jou werk op ‘n rekenaar doen en gereeld met ander mense moet praat (baie mense val in hierdie kategorie). Derdens, hoe belangrik dit is om veerkragtigheid in jou lewe in te bou in terme van gesondheid, finansies, vaardighede en verhoudings ter voorbereiding vir tye soos hierdie.”