GAUTENG. – Gauteng-motoriste word gewaarsku dat hulle boetes van tot R4 000 kan kry, indien hulle met onpadwaardige voertuie op die pad ry, veral indien voertuie nie gereeld nagegaan en onderhou word nie. Dit is deel van pogings om onklaarrakings en ongelukke, veral tydens die Paasvakansie, te voorkom.
Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sê daar is meer as 342 084 onpadwaardige voertuie op Suid-Afrikaanse paaie, met Gauteng wat die hoogste syfer het. In Gauteng is 176 450 onpadwaardige voertuie, gevolg deur KwaZulu-Natal met 40 878 en dan die Wes-Kaap met 40 815.
Die Wet op Nasionale Padverkeer bepaal dat dit onwettig is om ’n voertuig te bestuur wat nie padwaardig is nie, en oortreders kan beboet word of hul voertuie kan in beslag geneem word. Motoriste sal self vir die skut en bergingsfooie verantwoordelik wees. Kommersiële en openbare vervoeroperateurs word ook gemaan om voertuie gereeld te laat diens en aan die vereiste padwaardigheidstoetse te voldoen. Busse moet elke ses maande getoets word, terwyl taxi’s en vragvoertuie jaarliks getoets moet word.
Daar is ook kommer oor vervalde professionele bestuurspermitte (PrDP’s), met 338 679 wat landwyd verval het, waarvan Gauteng die grootste aandeel het met 108 788, die Wes-Kaap met 47 480, KwaZulu-Natal met 29 077 en Mpumalanga met 28 808.





