GAUTENG. – Die Gautengse departement van gesondheid het sy pogings met vroeë opsporing en intervensieprogramme verskerp om ernstige akute wanvoeding (EAW) onder kinders te bekamp. Gedurende 2024/2025 is 1 467 gevalle aangemeld, met die meeste in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni.
Volgens ‘n verklaring van die departement word baie kinders eers wanneer hulle in ’n ernstige toestand is, geïdentifiseer. EAW is ’n ernstige gesondheidskwessie wat lei tot uiterste gewigsverlies, spierafname, verswakte immuniteit en ontwikkelingsvertragings. Dit maak kinders meer kwesbaar vir infeksies soos diarree en tuberkulose. Indien dit nie behandel word nie, kan dit langtermyngevolge hê, soos gestremde groei, kognitiewe ontwikkelingsprobleme en ’n verhoogde risiko van chroniese siektes in volwassenheid.
“Hoewel wanvoeding voorkombaar is, is vroeë ingryping noodsaaklik om lewens te red. Ons doen ’n beroep op ouers, versorgers en gemeenskappe om gebruik te maak van gesondheidsfasiliteite vir vroeë ondersoeke en behandeling. Dit is belangrik om vroegtydig die tekens van EAW te herken, soos uiterste maerheid, verlies aan eetlus, swelsel in hande of voete en ontwikkelingsvertragings. Kinders wat moontlik wangevoed is, moet onmiddellik na die naaste kliniek geneem word,” sê Nomantu Nkomo-Ralehoko, die LUR vir gesondheid en welstand in Gauteng.
Gemeenskapsgesondheidswerkers doen huisbesoeke en ondersoeke by vroeëkinderontwikkelingsentrums. Gesinne ontvang ook voedingsopvoeding oor gesonde eetgewoontes, borsvoeding en aanvullende voeding. By klinieke word kinders ondersteun met voedingshulp, terapeutiese aanvullings, vitamien A en ontwurmingsprogramme.
Indien kinders weens wanvoeding in ‘n hospitaal beland, sal die situasie ná ontslag gemonitor word. Die departement beklemtoon dat faktore soos voedselonsekerheid en die tipe kos wat in ‘n huishouding beskikbaar is ook ‘n rol in wanvoeding speel. Gesinne word ook verwys om vir maatskaplike toelae aansoek te doen en om voedselpakkies te ontvang.
Lees die volledige verklarings hier onder:

