GAUTENG. – Hugo Ferreira (37) wat Caithlyn Ferreira, sy agt dae oue dogter verkrag en vermoor het, is deur die Pretoria-hooggeregshof tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Ferreira was in ‘n verhouding met die baba se biologiese ma. Hulle het saam in Welverdiend, Carletonville, gewoon. Op 8 Junie 2023 is die baba in sy sorg gelaat, terwyl die ma uit was. Toe die ma nie betyds teruggekeer het om die honger en huilende baba te voed nie, is sy deur haar pa, wat vir haar ma kwaad was, aangerand en verkrag.
“Hy het sy vingers gebruik om haar te skend en sy private dele teen hare gevryf en later beweer hy “gee die baba ’n rede om te huil”. Met die ma se terugkeer het Ferreira aanvanklik die beseerde kind weggesteek en geweier om haar te oorhandig. Die ma het toe die polisie ontbied. Die baba se beserings was sigbaar toe Ferreira haar in die teenwoordigheid van die polisie oorhandig het. Ferreira is onmiddellik in hegtenis geneem en die baba is na die hospitaal gehaas, waar sy die volgende dag aan haar beserings beswyk het.”
Mahanjana sê Ferreira het op die aanklagte van verkragting en moord skuldig gepleit. Tydens vonnisoplegging het Ferreira gevra die hof moet weens sy pleit en omdat hy berou toon, van die voorgeskrewe minimum vonnis afwyk. Staatsadvokaat André Wilsenach was daarteen gekant en het vir ‘n lewensvonnis gevra. Daar is ook na Ferreira se vorige vyf kriminele veroordelings, waarvan een vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, verwys.
Regter Portia Phahlane het Ferreira se pleit vir toegeeflikheid verwerp en met die staat saamgestem, waarna Ferreira dienooreenkomstig met oorweldigende bewyse van die staat teen hom gevonnis is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





