André du Preez van Silverfox Snake Rescue in Worcester se afsterwe Donderdag is op sy Facebook-blad bekend gemaak. Talisa du Preez, André se dogter, het aan Nuusflits gesê alhoewel hy deur ‘n spinnekop gebyt is, was dit nie die rede vir sy dood nie. Hy het ‘n virusinfeksie opgedoen wat sy organe verswak het.
“Dit is met groot hartseer dat ons moet aankondig van die heengaan van ons pa, en man. Hy was omring deur sy familie en vriende tot die einde.” Verskeie skole wat deur “Oom Silverfox” besoek is om inligting oor reptiele te gee, het medelye met foto’s op die Silverfox Snake Rescue Facebook-blad gedeel.
André het op 9 Februarie op die blad gesê dat hy vir eers nie beskikbaar sal wees om slange te vang nie. Hy het uitgebrei dat hy reeds vier dae in die hospitaal was en ‘n spinnekopbyt aan sy oor opgedoen het, vermoedelik toe hy na ‘n kobra in ‘n hok gesoek het. Sy familie het aan Worcester Standard gesê André was onlangs ‘n paar keer in en uit die hospitaal vir behandeling. Hy is onder meer met gordelroos gediagnoseer en het toe vermoedelik ‘n infeksie opgedoen. Sy pa is ook in dié tyd oorlede.
Marinda du Preez het ‘n plasing gedeel waarin sy gesê het André is slegs 12 dae na hulle pa oorlede.






