WES-KAAP. – Na beraadslaging met kontrakteurs, is vasgestel daar was 81 persone en nie 75 nie, in die woonstelgebou wat Maandagmiddag in Victoriastraat in duie gestort het.
George-munisipaliteit het vanoggend om 06:30 gesê die dodetal het na 8 persone gestyg.
Daar is reeds 37 persone uit die puin gehaal waarvan die agt oorlede is, 16 kritieke beserings opgedoen het, ses lewensbedreigende beserings het en sewe slegs gering beseer is.
Die getalle is aangepas nadat intensiewe besprekings met die verantwoordelike kontrakteurs gehou en veiligheidsrekords nagegaan is.
Reddingspogings het deur die nag voortgeduur. Meer en groter masjinerie is op die toneel om beton op te breek en puin word deur addisionele vragmotors verwyder.
Daar word steeds deurentyd na lewe gesoek. Snuffelhonde word op die toneel ingespan.





