LIMPOPO. – ’n 45-jarige man is in hegtenis geneem nadat die polisie ’n gesteelde Toyota Hilux Legend-bakkie ter waarde van sowat R700 000 op die N1 buite Polokwane opgespoor het.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het die polisie en nog rolspelers opgetree nadat hulle ’n wenk ontvang het dat die voertuig vanaf Gauteng onderweg was na Limpopo, vermoedelik om oor die Beitbruggrens gesmokkel te word. Die bakkie is op die N1 naby ’n vulstasie teen ‘n hoë spoed opgemerk en vinnig voorgekeer. Ondersoeke het bevestig dat die voertuig in die Tshwane-gebied as gesteel aangemeld is. Die bestuurder is onmiddellik in hegtenis geneem en sal op aanklag van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Die polisie sê hul ondersoek duur voort en dat hulle sal voortgaan om voertuigsmokkelary te bekamp.





