MPUMALANGA. – ’n Gesteelde voertuig met 11 skape en 50 hoenders, asook ander gesteelde eiendom van ‘n plaasroof naby Kusile-kragstasie, in Delmas, is Donderdag kort voor 06:00 tydens ‘n operasie teruggekry. ‘n Mosambiekse burger (35) is in hegtenis geneem en sal vandag in die Delmas-landdroshof verskyn.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring vyf gewapende verdagtes het na bewering die perseel binnegedring en onder meer ’n silwer Ford Ranger Club Cab, elf skape, ’n blou-en-swart kragopwekker, ’n yskas, ’n silwer BMW, 50 lêhenne, asook vyf selfone, gebuit.
Met die hulp van ’n opsporingsmaatskappy is die gesteelde Ford Ranger, die BMW en ’n silwer Mazda, wat glo deur die verdagtes gebruik is, op die R42 tussen Bronkhorstspruit en Delmas opgemerk, waarna ’n jaagtog gevolg het. Die verdagtes het die BMW agtergelaat en gevlug, waarna beamptes die toneel beveilig het. Die Ford Ranger is verder deur nog beamptes agternagesit. ’n Mazda Etude het probeer keer dat beamptes verbygaan, maar het ‘n ongeluk gemaak. Die jaagtog het tot in eTwatwa, Daveyton, Gauteng voortgeduur, waar die Ford Ranger deur die verdagtes gelos is. Elf skape en 50 hoenders is in die voertuig teruggevind.
Die verdagte wat die Mazda Etude bestuur het, is in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het na Bronkhorstspruit gelei waar bykomende gesteelde items, insluitend ’n kragopwekker, aansitkabels, ’n yskas en ’n vuurwapen met een leë rondte teruggevind is. Al die voertuie is by die Delmas-polisiekantoor ingehandig, terwyl die teruggevinde gesteelde eiendom is by die Bronkhorstspruit-polisiekantoor ingehandig.
Die verdagte staan op aanklagte van huisroof en oortreding van die immigrasiewet tereg. Die moontlikheid dat verdere aanklagte bygevoeg kan word, word nie uitgesluit nie.





