Gewilde polisiekaptein se ‘moordenaars’ vandag in hof

Lees ook :

Foto: Jaco Powell

GAUTENG. – Twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 37 jaar oud, verskyn vandag op aanklag van die moord op kapt. Wynand du Toit van Springs in die plaaslike landdroshof. Du Toit is Sondagoggend tydens ‘n roof by ‘n supermark in Geduld deur verdagtes geskiet, waarna hy in die Parkland-hospitaal gesterf het.

AO Thatohatsi Mavimbela, woordvoerder vir die Valke, sê aan Nuusflits die eienaar van die supermark en sy broers is deur vier mans wat die supermark binnegegaan en hulle oorval het, beveel om op die grond te lê. Du Toit, wat van diens af was en die supermark wou besoek, is deur lede van die gemeenskap ingelig daar is ‘n roof in aanvang. Hy het hom aan diens geplaas en is na die supermark waar ‘n skietery uitgebreek en hy en ‘n verdagte in die kruisvuur getref is. Die verdagtes het van die toneel gevlug en die kaptein is deur die gemeenskap na Parkland-hospitaal gehaas, maar het aan sy beserings gesterf.

Mavimbela sê later die dag is inligting ontvang van ‘n moontlike verdagte met skietwonde by Pholosing-hospitaal in Tsakane, waarna die verdagte gearresteer is en tans onder polisiebewaking in die hospitaal is. Nog ‘n verdagte is Maandag in Evander, Mpumalanga gearresteer. Beide die verdagtes sal vandag hulle eerste hofverskyning maak.

Maj.genl. Ebrahim Kadwa het die span wat aan die saak werk vir die vinnige inhegtenisneming van die verdagtes geprys. Daar word onverpoosd gewerk om al die verdagtes aan te keer.

Du Toit laat sy vrou Nicky en twee seuns agter. Volgens ‘n sosialemediaplasing het meer as 1 000 voertuie Maandagaand in ‘n massa-gedenkrit vir Du Toit gery.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief