GAUTENG. – Owami Visagie (17), in gr.-11 by Hoërskool Chipa-Tabane in Refilwe, Cullinan, is na bewering Sondag eers verkrag, waarna sy vermoor is.
Steve Mabona, die woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê volgens inligting het die leerder Vrydag en Saterdag ekstra klasse bygewoon. Sy het die huis Sondag omstreeks 18:00 verlaat en nie weer teruggekeer nie. Haar ma het haar as vermis aangemeld. Die meisie is blykbaar die laaste keer saam met haar neef gesien waarna haar familie na sy huis toe is en haar liggaam in sy kamer gevind het. Die polisie is gekontak nadat haar liggaam gevind is.
Mabona sê volgens inligting tot sy beskikking is sy glo eers seksueel aangerand en toe verwurg.
Die verdagte het homself Maandagaand aan die polisie oorgegee en sal vandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.
“We are deeply devastated by the passing of our dear learner, especially through such gruesome circumstances. We solemnly sympathise with her beloved family, extending our most sincerest condolences to them and the school community at large,” sê MatomeChiloane, die LUR vir onderwys in die provinsie.





