VK. – Die voormalige beoordelaar van MasterChef, Gregg Wallace (60), het gesê hy is “verskriklik jammer vir enige ontsteltenis” wat hy veroorsaak het ná 45 van die 83 beskuldigings wat teen hom gebring is, gronde blyk te hê.
Lees ook: Verslag bevind 45 bewerings oor MasterChef-beoordelaar Gregg Wallace is waar
Een van die aantygings wat waar bewys is, was oor onwelkome fisiese kontak, asook drie aantygings dat hy van sy klere uitgetrek het.
MasterChef se produksiemaatskappy, Banijay, het ’n onafhanklike regsfirma aangestel om die aantygings te ondersoek ná BBC News ’n storie oor die aantygings geplaas het.
Die onafhanklike regsfirma, wat hulle verslag gister gepubliseer het, het bevind daar is oor ’n tydperk van 19 jaar verskeie beskuldigings teen Wallace gemaak. Die verslag het ook genoem Wallace se laat diagnose van outisme moet in ag geneem word wanneer die bevindings oor sy gedrag en taalgebruik gemaak word.
Wallace het gister in ’n verklaring herhaal: “Geen van die ernstige aantygings teen my het bly staan nie” en het bygevoeg: “Ek het baklei teen die aanklag van onwelkome fisiese kontak, maar moes aanvaar daar is ’n verskil in persepsie en ek is verskriklik jammer vir enige ontsteltenis wat veroorsaak is. Dit was nooit bedoel nie”.
Hy het gesê van sy humor en taalgebruik “het die merk gemis” maar het bygevoeg: “Ek het nooit bedoel om iemand skade te berokken of te verneder nie. Ek het probeer om warmte en ondersteuning na MasterChef te bring, op die skerm en af”.
Bronne: BBC, The Independent, Metro
Lees ook: Verslag bevind 45 bewerings oor MasterChef-beoordelaar Gregg Wallace is waar





