LIMPOPO. – Die vermiste 2-jarige Omphile Sithole is na bewering verwaarloos. Nkgalapana Vinolia Mabuela (52) en Lesiba Jacob Ledwaba (54), haar grootouers, het Maandag in die Mahwelereng-landdroshof verskyn nadat bewyse van verwaarlosing glo tydens ondersoek ontdek is. Hulle is Vrydag deur Tinmye-polisie in hegtenis geneem, terwyl die polisie steeds na die peuter soek.
Mashudu Malabi, NVG-streekwoordvoerder, het bevestig dat Omphile se ouers in Gauteng woon en dat hulle haar in haar grootouers se sorg op Ga-Mabuela gelaat het. Die kind is na bewering ontvoer terwyl sy tuis geslaap het.
Die beskuldigdes bly in aanhouding en sal op 25 Mei 2026 vir ‘n formele borgtogaansoek verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Omphile het in die vroeë oggendure van 2 Mei uit haar huis verdwyn. Haar ouma het haar omstreeks 06:00 vermis en ‘n oop venster in die kamer opgemerk. Die polisie het aanvanklik sake van inbraak en ontvoering geopen. Ten tyde van haar verdwyning het Omphile ‘n pienk trui en ‘n swart kuitbroek gedra. Enigiemand met relevante inligting kan AO Chuene Selolo by 082 469 2594 bel.





