Brekende Nuus
Afrikaans

Heilbron-boer dood deur plaaswerker aangetref

Daar word berig die kluis was oop en vuurwapens word van die perseel vermis.

Heilbron-boer dood deur plaaswerker aangetref
Heilbron-boer dood deur plaaswerker aangetref Foto: Facebook

VRYSTAAT. – ‘n Boer, Petrus Steyn (51), is Donderdagoggend dood in ‘n pakkamer op die plaas Holfontein in die Heilbron-omgewing aangetref.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is die boer 06:30 deur ‘n plaaswerker gevind, nadat sy vrou hom gestuur het om na haar man te gaan soek. “Sy het hom nie in die hande gekry nie.”

Daar word berig die kluis was oop en vuurwapens word van die perseel vermis. Steyn het verskeie kopbeserings gehad en dit lyk asof hy met ‘n skerp voorwerp gesteek is.

DA geskok na moord op boer op Heilbron

Die Demokratiese Alliansie (DA) het intussen hulle skok oor die plaasmoord uitgepreek. Volgens Leona Kleynhans, lid van die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer, is die party “uiters geskok oor nog ‘n plaasaanval wat plaasgevind het”. Kleynhans sê verder roof is moontlik die motief vir die aanval.

“Die DA vra al lank dat die SAPD se landelike veiligheidsplan ten volle geïmplementeer moet word, maar ervaar nog dat polisiekantore skaars kan funksioneer weens ’n gebrek aan hulpbronne wat mannekrag en befondsing insluit. In baie gevalle is dit slegs die plaaslike veiligheidsgroepe wat nog ’n hindernis bied teen hierdie misdadige elemente.”

“Ons boere en landelike gemeenskappe is uitgelewer aan misdadigers and moordenaars, wat nie in hul wreedheid sal skroom om hul doel te bereik nie. Die huidige situasie moet onder geen omstandighede geduld word nie, en ons sal voortgaan om te veg vir ’n behoorlike polisiediens, asook ten volle bemagtigde gemeenskapsforums.”

LEES OOK: Ses mense, waaronder drie kinders, dood na vragmotor glo U-draai maak

Volg Nuusflits hier vir die nuutste nuus.