Historiese herbegrafnis van Khoi- en San-voorouers vandag

Lees ook :

Foto's: Prince Peterson Facebook-blad

NOORD-KAAP. – ’n Belangrike oomblik van herstel en waardigheid speel vandag (Maandag) in dié provinsie af wanneer die oorskot van 63 Khoi- en San-voorouers om 09:00 by die Kinderlê-monument herbegrawe word. Die herbegrafnis vind plaas nadat die voorouers vir meer as ’n eeu weg van hul tuisgrond te ruste was.

Volgens Iziko-museums het die Suid-Afrikaanse regering saam met rolspelers in die erfenissektor gewerk om waardigheid aan die land se Eerste Nasies te herstel deur die terugbesorging en herbegrafnis van voorouerlike oorskot. Hierdie proses is daarop gemik om historiese onregte reg te stel en genesing te bevorder. Gedurende Oktober 2025 is die oorskot van Khoi- en San-individue vanaf die Universiteit van Glasgow in Skotland, waarheen dit oor dekades sonder toestemming verwyder is, teruggebring. Ná die terugkeer van die oorskot is dit deur Iziko-museums versorg terwyl daar met gemeenskappe beraadslaag is.

Die Universiteit van Glasgow sê die terugbesorging van die oorskot uit die Hunterian-versameling vorm deel van ’n gesamentlike poging tussen Suid-Afrikaanse owerhede en internasionale instellings om die onreg van die verlede reg te stel. Die oorskot, wat tussen 1868 en 1924 oneties verwyder is, sluit verskeie individue, asook kulturele items in wat hoofsaaklik uit die Noord-Kaap afkomstig is. Die proses is moontlik gemaak deur ’n nuwe nasionale beleid wat samewerking tussen lande oor repatriasie bevorder.

Heel gepas sê die Suid-Afrikaanse regering Slim-ID’s, paspoorte en geboortesertifikate kan nou amptelik Khoikhoi- en San- tradisionele name erken en registreer, ’n betekenisvolle stap om die land se diverse kulturele erfenis te erken.

Stanley Peterson, raadslid en speaker van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, het op die Prince Peterson-Facebook-blad die vervoer van die oorskot met foto’s en video’s gedeel en beskryf die terugkeer van die voorouers as ’n historiese gebeurtenis, met gemeenskappe wat in groot getalle opgedaag het om hul voorouers te verwelkom. Volgens hom is die oorskot in Garies oorhandig en is tradisionele rituele, insluitend ’n nagwaak, uitgevoer voordat dit na Steinkopf vervoer is. Hy sê altesaam 63 voorouerlike oorskotte sal uiteindelik by die Kinderlê-terrein herbegrawe word. Peterson beskryf die geleentheid as een van die grootste herbegrafnisse van Khoi- en San-mense in Suid-Afrika se geskiedenis en sê dit bring uiteindelik rus en waardigheid aan die oorledenes ná meer as honderd jaar.

Druk hier om meer te lees wat die Universitet van Glasgow sê.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief