Hoe baie verskil jy en jou maat?

Lees ook :

Ek sit Vrydagaand voor die TV en kyk die series Love is blind – UK edition op Netflix. Dis nou nie regtig my tipe ding nie, maar ek vind die Britte se humor baie vermaaklik, en hulle het mos ook snaakse aksente afhangende van waar hulle kom.

LEES MEER: Tot jou geliefdes sal jou haat as jy dit aan hulle doen

Ek kom agter daar’s ‘n fyn draad van gelykvormigheid in die meeste van die deelnemers; elkeen soek iemand wat soveel as moontlik in gemeen met hulself het. Terwyl ek dit aanskou, gil ek amper op die TV en sê: “Nee, dis nie hoe dit moet wees nie!”

Jy wil mos darem nie hê dat jou lewensmaat nes jy moet wees nie, daar is hopelik genoeg vriende wat daai rol kan vervul. Ek soek vir seker nie iemand wat dieselfde as ek is nie; ons sal mos niks nuuts by mekaar kan leer of kan groei en verander nie.

Daai selfde nag klim ek in die bed, en ek weet nie of dit met jou ook gebeur nie, maar soms is my een voet warm en die ander een yskoud. Ek weet nie of dit die waaier is wat die een voet meer bykom nie, maar hoe dit ook al mag sy, dit gebeur soms. Ek druk toe die koue voet teen die warm een, en dit bring mos altyd ‘n wonderlike gevoel. Ek voel hoe die hitte oordra na die koue voet, en die koute weer die warm ene verligting gee. Dit was so lekker, ek’t amper net daar aan die slaap geraak.

Verbeel jou dat albei voete warm was en ek het dit teen mekaar gedruk, dan sou dit net erger word. Of as altwee koud was, dan het ek seker nou nog met koue voete wakker gelê!

En toe gaan die liggie in my kop aan. Dis hoe dit moet wees met jou lewensmaat. Hulle sê mos “opposites attract”. Julle moet mekaar aanvul op plekke waar jy jouself nie kan help nie, soos met die hitte en koue. Jou gemaksone word konstant getoets, omdat jy kompromieë moet aangaan, en as dit gebeur, dan groei jy.

Ek verstaan dat daar sekere basiese beginsels is wat wel dieselfde moet wees, bv jou geloof, familie en of julle wil kinders hê ensovoorts, maar tog moet ons ruimte vir die persoon gee om anders as ons te wees. Indien nie, sal die lewe maar baie vervelig wees.

Dus, as jy vandag lees en sê: “Jissie, ek wens my vrou het my tipe sin vir humor gehad, of was so lief vir sport soos ek”, is dit miskien ‘n goeie ding en nie ‘n slegte ding nie. Jy kan dalk haar humor probeer verstaan, en wie weet, dalk geniet jy dit! En probeer leer wat die ander persoon se belangstellings is as wat jy net aankap met jou eies.

Hierdie is maar my mening, laat weet gerus of jy dalk ‘n ander siening het.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief