RUBRIEK. – Sondagoggend vroeg, toegedraai in ‘n kombers voor die TV, kyk ek ‘n romcom op Netflix. Die leë pak van die chips lê op die mat en die koeldrank is op, nes die laaste bietjie energie wat my wakker hou. Toe die fliek klaarmaak en ek besluit om uiteindelik bed toe te gaan, loer ek gou vinnig van stoutgeit uit die mag van die gewoonte op YouTube. Tot my skok sien ek orals video’s van Donald Trump wat geskiet is! Weg is die vaak, ek moet nou eers uitvind of die man nog oraait is. Deur die genade lyk dit hy is okay en ek gaan maar bed toe en probeer slaap, maar die slaap het my vir ure ontwyk.
LEES MEER: Aanstoot is die aas van die vyand
Daar is so baie vrae wat by my opkom. Die man wat hom geskiet het (blykbaar die 20-jarige Thomas Matthew Crooks) – was dit ‘n solo act, of was hy deel van ‘n groep? Het hy alles op sy eie beplan, of is hy betaal of deur ‘n ander organisasie gemotiveer? Ek wonder of hy belowe is dat hy bekend sal word en movies van hom gemaak sal word. Is Trump se eie mense dalk agter die aanval, of dalk die opposisieparty? Of het almal dalk saamgewerk? Ons sal seker nie die volle waarheid aan hierdie kant van die ewigheid kry nie.
Ek het van die begin af vir een of ander vreemde rede ‘n fassinasie met die John Wick-series gehad waarin Keanu Reeves as huurmoordenaar in die kriminiele onderwêreld ingetrek word. Ek vermoed my belangstelling is as gevolg van die dieper boodskap in die storie, dat daar ‘n wêreld onder ons s’n is wat volgens hulle eie reëls en agendas bedryf word. En baie, baie min mense het eens ‘n idee dat so ‘n wêreld bestaan. Ek praat metafories, nie ‘n fisiese plek onder die grond nie, maar eerder onder ons neuse, net daar waar ons nie kan sien nie. Dus sal ek nie verbaas wees as hierdie tragedie van die naweek dalk maande vooruit al beplan is deur die magte van die duisternis van hierdie eeu nie.
My laaste gedagte is die herinnering dat ons vir ons leiers moet bid, of ons nou van hulle hou of nie. Hoekom? Sodat ons in vrede kan lewe. As jy teruggaan na die voorval, sal jy ontdek dat ‘n man direk in die vuurlyn tussen Trump en sy aanvaller gestaan het, en sodoende ‘n koeël in sy kop gevat en gesterf het. As hy nie daar was nie, het die nuus dalk vandag gelees dat die voormalige president nie meer met ons is nie. Ek weet nie van jou nie, maar dit klink vir my soos ‘n Goddelike ingryping!
So bid vir jou leier, bid vir jou land en jou medemens, en moenie iemand haat omdat hy nie dieselfde politieke siening as jy het nie. Op die ou end moet julle nogsteeds saam leef.