RUBRIEK: Ek sal met jou eerlik wees, die afgelope twee weke was maar ‘n rowwe tyd in my lewe. Hulle sê mos dat wanneer ‘n mens onder erge druk verkeer, kom die dinge wat in jou hart is na vore. Dis ook sommer ‘n rede om genadig te wees met ander, want jy weet soms nie altyd hoekom hulle optree soos wat hulle doen nie.
Die storie begin by my en twee van my vriende/kollegas wat ‘n baie sagte meningsverskil gehad het. Iets is gesê wat my laat aanstoot neem het, en daar vorm toe ‘n ontevredenheid daar rondom. Ek het regtigwaar in my hart gevoel dat ek nie verkeerd is nie, en kon nie verstaan hoekom die ander nie my punt kan insien nie. Dit was soos ‘n doring in my vlees, en hoe meer ek daaraan karring, hoe dieper gaan dit in en hoe meer pynig ek myself. Om aanstoot te neem, is ‘n lelike ding, dis ‘n vreemde, onnatuurlike gevoel wat homself inwurm tot in jou binneste. Jy’s so bewus daarvan soos iets in jou klere wat jou elke nou en dan krap, en as dit doen, maak dit so ‘n ongemaklike warm gevoel in jou binneste wat maklik kan wissel tussen woede of selfbejammering. Hierdie indringer kom nie na jou toe met geweld of geraas nie, maar kom kruip saggies by jou hart in sonder dat jy die deur oopgemaak het. In my geval was ek waaksaam daarteen, maar tog het hy my onkant gevang.
Net soos wat jy by ‘n dokter soms ‘n tweede opinie moet kry, werk dit ook maar met sielkundige sake. Na gesprekke met my kollegas, ander vriende en ‘n bietjie ongemaklike selfondersoek is daar bevind dat ek wel verkeerd was en moes regmaak.
Om te erken dat die fout by jouself lê, is nog meer van ‘n onaangename ervaring as om aanstoot te neem in die eerste plek, maar dis iets wat moet gedoen word. Ons moet waak teen hoogmoed en trots, en bereid wees om onsself van tyd tot tyd te verneder sodat die vlees kan sterf en ons meer effektief in die gees kan wees.
En hier kom die mooiste deel: Ek het my fout bely aan mens en God, en Hom gevra om die aanstoot van my af weg te neem. Die gewig wat toe van my skouers af gekom het, was so tasbaar dat ek amper wou dubbel “check” of ek nie rêrig ‘n rugsak op my rug gehad het nie! Ek voel daai verligting nog steeds terwyl ek hier sit, en het hierdie week ervaar dat ek nader aan God voel as tevore. Daar was ‘n skeur in my wapenrusting en dis nou weer herstel en sterker as ooit.
Daar word maar op elkeen van ons se tone gedurende ons lewensloop getrap. Soms is dit glad nie jou fout nie, en soms is dit jou eie voete wat uit lyn uit was. Maar hoe dit ookal sy, dis nie ‘n slegte beginsel om ‘n bietjie selfondersoek te doen indien jy wel ‘n pyn daar onder voel nie. Hierdie week was ek verkeerd, volgende keer is dit dalk jou beurt!





