Almal wil hulle vakansie ten volle geniet, maar om aktiwiteite en lekker goed te doen, kos geld. Om geld te spandeer, is onvermydelik en petrol en verblyf is duur. Hoe ontspan mens die vakansie sonder om die heeltyd bekommerd te wees oor wat in die beursie aangaan?
Wat is die begroting?
Dit is belangrik om voor die tyd al na die geldsake te kyk en seker te maak dat jy dit wel kan bekostig om met vakansie te gaan. Charlie Heathcote, ’n adviseur by Discovery, raai aan dat mens nie meer geld uitgee as wat jy verdien nie.
Petrolgeld
Stel voor die tyd ’n begroting op vir petrol. Hou ’n spesifieke bedrag daarvoor uit en moet dit nie oorskry nie. Hou ingedagte dat daar nog huis toe gery moet word.
Kredietkaart – groot nee!
Charlie sê ’n kredietkaart is ’n groot bogger. “Moet dit nie inreken in die begroting nie. Dit is skuld wat later net teen ’n rente terugbetaal moet word.”
Werk met kontant
Dit is maklik om die SMS’e wat deurkom, te ignoreer, maar dit is onvermydelik om te sien hoe die geld uit jou beursie uit verdwyn.
‘Winskopies’ kos ook geld
Om geld uit te gee by ’n uitverkoping gebeur so maklik. Dit is dan tog so lekker en soveel makliker om ’n mooi rok of nuwe skoene op ’n special te koop. Die punt bly staan – jy gee geld uit wat jy op iets kon spandeer wat nodig was.
Charlie sluit af met die raad: “As jou geld op is, gaan onmiddellik huis toe.”