KWAZULU-NATAL. – Taryn le Roux (48) is glo op 15 September tydens ‘n argument in Westville, Durban, deur haar man (63) doodgeskiet. Women For Change het ‘n petisie geloods om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGG/GBV) as ‘n nasionale ramp te laat verklaar.
Nuusflits het op 15 September berig ALS Paramedics was op die toneel waar die vrou dood verklaar is. Met reaksie-eenhede se aankoms op die toneel is Taryn leweloos aangetref. Die oorledene is glo in die kop en bolyf getref. Haar man was steeds teenwoordig en is met aankoms van die polisie in hegtenis geneem.
Die organisasie sê dit is hartseer oor nog ‘n lewensverlies: “Hoeveel lewens moet nog geneem word voordat GGG en vrouemoord uiteindelik as ’n nasionale ramp verklaar word? Eer Le Roux se nagedagtenis deur vandag jou handtekening by te voeg: https://chng.it/4ZMr7cJRpt“
Die volgende verklaring is op 15 September deur Zulu Pappa op die SA911 Crime-Facebook-blad gedeel:
Ons is bewus van ’n voorval wat op 15 September 2025 by Waxys Westville, omstreeks 13:30, plaasgevind het. Ons neem die veiligheid en welsyn van ons kliënte en personeel ernstig op.
VOORVAL
Konflik tussen ’n man en vrou het in ’n huishoudelike geweldsvoorval ontaard. Die polisie en forensiese span doen ’n volledige ondersoek na die voorval. Die man is in hegtenis geneem.
Op hierdie stadium is die gebeure wat tot die skietvoorval gelei het, onbekend. SAPD Westville is op die toneel en sal die ondersoek verder voortsit.
Ons waardeer die vinnige reaksie van die owerhede en nooddienste. Ons sal verdere opdaterings verskaf soos nodig en is daartoe verbind om ’n veilige omgewing vir almal te handhaaf.
Ons is geskok oor hierdie geïsoleerde voorval en die uitkoms daarvan.






