Is die Olimpiese Spele ‘n verneukspul?

Lees ook :

Normaalweg as dit tyd is vir die Olimpiese Spele dan is die nuus vol daarvan, niks nuuts daarso nie. Maar hierdie jaar gons die wêreld daaroor, want dit het seker die mees omstrede openingseremonie gehad wat ek nog ooit gesien het.

LEES MEER: Aanstoot is die aas van die vyand

Christene is vies, want hulle sien die tafeltoneel as ‘n bespotting van die Laaste Avondmaal van Jesus en sy dissipels. Of die organiseerders dit so bedoel het of nie, weet ons nie. Wat ek wel weet, is dat ek nie my kinders sou toelaat om so iets te aanskou nie. Net soos wat ek as kind gesê is dat ek my hande voor my oë moet hou as daar ‘n lelike toneel in ‘n fliek kom, so moes sommige ouers ook met hulle kinders maak gedurende die seremonie. Om hemelsnaam, daar was dan selfs ‘n man wat homself halfpad ontbloot het, en dit terwyl hy langs ‘n kind staan!

Maar my vraag is nie vandag of dit gepas was of nie, daai kan jy vir jouself besluit. My vraag is wel of die Spele ‘n verneukspul is of nie?

Dink gou mooi: Elke professionele sport in ons hedendaagse era het atlete wat baie goed betaal word. Die Bokke draf nie meer net op die veld vir die eer van hulle land, en gaan volgende week weer terug werk toe nie. Nee, hulle word baie goed betaal om ‘n loopbaan daarvan te maak, en dan draf hulle op vir die glorie. Elke sportorganisasie is soos ‘n besigheid, en die atlete bring goeie inhoud na die tafel vir ons wat kyk, terwyl die uitsaainetwerke miljoene betaal sodat hulle kliënte (ek en jy) dit kan aanskou.

En wat doen die organiseerders van die Olimpiese Spele? Hulle kry biljoene dollars en betaal hulle atlete nie ‘n blou duit nie! Verbeel jou gou jy sien ‘n maatskappy, en almal wat daar werk, doen dit verniet terwyl die grootkoppe rondry in sportmotors en in private jets vlieg, en hulle sê die werknemers doen dit nie vir die geld nie, maar vir die glorie daarvan. So belaglik soos wat dit klink, is dit eintlik maar presies wat vandag gebeur.  

Ek wonder hoeveel tyd en geld dit jou moet kos om jou hele lewe toe te wy aan ‘n spesifieke sport, in die hoop dat jy dalk, as jy gelukkig is, ‘n goue medalje om jou nek kan hang? Al daai geld, opoffering, bloed en sweet, en jy word nie ‘n sent betaal nie. Terwyl die manne wat dit aanbied, rol in die geld.

En ja, ek weet, as jy naam maak, is daar ‘n moontlikheid dat jy goeie borge kan kry en dit tog kan maak werk. Maar hoeveel mense ken jy wat dit wel bereik? En die ander vraag: hoeveel mense het dalk die talent, maar kan dit nooit bekostig nie?

Alhoewel ek die Olimpiese Spele geniet, en waardeer om te sien hoe merkwaardig die atlete hulle talente ten toon stel voor die wêreld, moet ek bieg dat ek hierdie jaar ‘n redelike bitter smaak in my mond gekry het vir die hele affêre.

Maar dis net my opinie, hoe voel jy daaroor?

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App