Jetour Suid-Afrika het die Jetour Dashing en X70 Plus opgeknap namate tegnologie, veiligheidstandaarde en kopers se verwagtinge in die motormark aanhou verander.
Die twee sportnutsvoertuie was van die eerste modelle waarmee Jetour in September 2024 die Suid-Afrikaanse mark betree het. Nou, byna twee jaar later, is albei aangepas sonder om die eienskappe wat hulle gewild gemaak het, heeltemal te verander.
Volgens Rowen Naidoo, produkbestuurder van Jetour Suid-Afrika, beteken ’n voertuigopknapping nie noodwendig dat daar iets fout was met die bestaande model nie.
“’n Voertuigopknapping gaan nie daaroor om ’n problematiese of foutiewe voertuig reg te stel nie, maar om seker te maak dat ’n voertuig wat klante reeds waardeer, steeds aan hul verwagtinge voldoen in ’n motormark wat voortdurend verander,” sê Naidoo.
Dashing kry meer tegnologie en gerief
Die opgeknapte Jetour Dashing behou sy kenmerkende, stedelike ontwerp, maar verskeie veranderinge is aan die binneruim, tegnologie en geriefskenmerke aangebring.
Dit sluit ’n Sony-klankstelsel met agt luidsprekers, privaatheidsglas, dubbelsone-klimaatbeheer en ’n panoramiese glasdak in. Die Prime-model kry ook verhitte en geventileerde voorsitplekke.
Die Dashing se ontwerp was reeds een van die model se sterk verkoopspunte en Jetour het daarom nie sy voorkoms ingrypend verander nie. Die opknapping fokus eerder op kleiner stileringveranderinge en verbeterings aan tegnologie en gerief.
X70 Plus kry ook nuwe voorkoms
Die nuwe Jetour X70 Plus het ’n meer verfynde voorkoms gekry, met onder meer ’n herontwerpte sierrooster met geborselde aluminium-afwerking en nuwe 19-duim-allooiwiele.
Die binneruim is ook opgegradeer. Dubbelsone-klimaatbeheer is onder die nuwe geriefskenmerke, terwyl verhitte en geventileerde voorsitplekke in die X70 Plus Prime beskikbaar is.
Volgens Jetour is 54% van X70 Plus-eienaars tot dusver vroue tussen 36 en 40 jaar oud. Die voertuig se ruimte en gesinsvriendelike veelsydigheid bly daarom ’n belangrike deel van sy posisionering.
Meer krag vir die Jetour Dashing en X70 Plus
Werkverrigting is ook verbeter.
Die 1,5-liter-turbo-enjin in die Dashing en X70 Plus lewer nou 125 kW en 270 Nm, teenoor 115 kW en 230 Nm voor die opknapping.
’n Nuwe sewegang-dubbelkoppelaar-ratkas vervang ook die vorige sesgang-DCT.
Veiligheidstegnologie verander vinnig
Veiligheidstegnologie is een van die gebiede wat besonder vinnig in die motorbedryf ontwikkel.
’n Voertuig wat net ’n paar jaar gelede goed toegerus was, kan vandag teen ’n heel ander standaard gemeet word. ’n Opknapping gee vervaardigers daarom die geleentheid om nuwer bestuurderbystandstegnologie by bestaande modelle te voeg.
Die Dashing en X70 Plus kry vlak 2 gevorderde bestuurderbystandstelsels, oftewel ADAS. Die tegnologie kan onder meer help om moontlike gevare te identifiseer, ’n veilige volgafstand te handhaaf en die voertuig binne sy baan te hou.
Albei voertuie beskik ook oor ’n 540-grade panoramiese kamerastelsel.
Ander tegnologie en geriefskenmerke sluit twee 10,25-duim-skerms, 50 W draadlose selfoonlaai, draadlose Apple CarPlay en Android Auto en ’n Sony-klankstelsel met agt luidsprekers in.
Nie alles hoef verander te word nie
Volgens Naidoo is dit net so belangrik om te weet wat nié tydens ’n opknapping verander moet word nie.
“Die doeltreffendste opknapping is nie noodwendig die een wat die meeste verander nie,” sê hy.
“Dit is die een wat in ag neem wat klante nodig het, wil hê en waardeer en dan die eienskappe opgradeer waar die mark en mededingers ontwikkel het.”
Die handelsmerk het sy fokus op klantetevredenheid ook al voorheen as ’n prioriteit in die Suid-Afrikaanse mark uitgelig.
Jetour se eie modelreeks het intussen ook aansienlik uitgebrei.
Die Dashing bly die handelsmerk se meer stedelike en stylgerigte SUV, terwyl die sewesitplek-X70 Plus hoofsaaklik op gesinne, leefstyl en ruimte fokus.
Die Jetour T-reeks, wat die T1 en T2 insluit, is meer op vermoë en avontuur gerig. Jetour het in April vanjaar ook die T1 i-DM en T2 i-DM-inprophibriedmodelle in Suid-Afrika bekend gestel.
Jetour het die opgeknapte Dashing en X70 Plus teen ’n laer beginprys bekend gestel as wat die twee modelle met hul oorspronklike Suid-Afrikaanse bekendstelling in 2024 gekos het.
Meer inligting oor die handelsmerk en sy modelle is op Jetour Suid-Afrika se webwerf beskikbaar.