OOS-KAAP. – ’n Polisiebeampte het Dinsdagmiddag ’n bestuurder tydens ’n jaagtog in Mthatha doodgeskiet, nadat die man na bewering ’n vuurwapen op polisiebeamptes gerig het. ’n Meisie (14) wat ’n omstander was, is beseer toe die bestuurder se voertuig teen ’n stilstaande voertuig gebots het.
Kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê speurders van Madeira was besig om ’n verdagte in verband met huisbraak en diefstal in hegtenis te neem toe hulle ’n voertuig gewaar het wat na bewering met verskeie rooftogte in Mthatha se middestad verbind word. Die bestuurder het weggejaag, waartydens drie insittendes tydens die agtervolging uitgespring en te voet gevlug het.
Nadat die polisie die voertuig in Tembuweg vasgekeer het, het ’n beampte die bestuurder aangesê om stil te hou en uit te klim. Die bestuurder het na bewering ’n vuurwapen op die beamptes gerig, waarna een van hulle hom geskiet het. Hy is op die toneel dood verklaar en die polisie het op ‘n vuurwapen beslag gelê.
Die meisie is na ’n hospitaal geneem en is volgens die polisie in ’n stabiele toestand. Die polisie ondersoek ’n aanval op polisiebeamptes, die rig van ’n vuurwapen en roekelose en nalatige bestuur. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die voorval is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys.
Die polisie het tydens die aanvanklike inhegtenisneming op ’n vermoedelik gesteelde televisiestel beslag gelê. Dié verdagte sal na verwagting, sodra hy aangekla is, in die Mthatha-landdroshof verskyn.