Brekende Nuus
Misdaad

Kaapse skool se veiligheidswag aangerand ná inbraak

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – ‘n Veiligheidswag wat vir ekstra veiligheid by die Laerskool Victoria Park op Worcester aangestel is, is Donderdagaand aangerand. Daar is ook by die skool ingebreek. Die skool doen ‘n beroep op ouers en die gemeenskap om op hul hoede te wees.

Die skool het vroeër op sosiale media bekend gemaak dat krane en waterpype, asook die gasbottel van die voedingskema se kombuis, tydens die inbraak gesteel is. Omdat die skool sonder lopende water was, kon kos nie in die voedingskema se kombuis vir die leerlinge voorberei word nie. Leerlinge moes sonder ‘n maaltyd huis toe gaan. Die skool sê dit het boonop ‘n direkte invloed op die higiëne en welstand van leerlinge en personeel gehad.

Die skool het kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat mense uit die skool- of gemeenskapstrukture by die voorval betrokke kan wees, maar het nie beweer dat enige spesifieke persoon betrokke is nie. Ouers en gemeenskapslede met inligting oor die inbraak, gesteelde items of moontlike verdagtes word gevra om die skool, veiligheidsdiens of die polisie te kontak. Die skool het mense ook gemaan om nie self enige verdagtes te konfronteer nie.

“Ons kan nie verwag dat die skool alleen hierdie probleem moet hanteer nie. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om ons kinders en hulle skool te beskerm.”