GAUTENG. – Kapt. Johannes Jansen van Rensburg (53) het vir beweerde bedrog en diefstal van miljoene rande in die Pretoria-landdroshof verskyn, waar hy op borg van R50 000 vrygelaat is. Hy is steeds geskors, aangekla en is in hegtenis geneem, waarna hy vandag (Dinsdag) in die hof verskyn het. Die saak is tot 30 Julie uitgestel.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê ’n interne ondersoek het aan die lig gebring dat Van Rensburg glo die Polfin-stelsel gemanipuleer het om kontant vir homself uit te betaal, terwyl daar voorgegee is dat die geld bedoel was vir reisuitgawes van die presidensiële beskermingsdienste. Die geld is egter nooit aan die beskermers uitbetaal nie. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom en beklemtoon dat enige lid wat by korrupsie betrokke is, ten volle met die gereg te doen sal kry, sonder kompromie.
Mathe het voorheen bevestig dat geen beskermers van die president, adjunk-president, ministers of adjunk-ministers by die saak betrokke is nie en dat streng maatreëls geld om te verseker dat belastinggeld verantwoordelik gebruik word.





