Brekende Nuus
Afrikaans

Kinders verdrink in watergevulde gat

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – Loyiso Mkhekwa (11) en Rapelang Sejentu (10) het Sondag in ‘n gat by ‘n konstruksieperseel wat weens reën met water gevul is, in Matjhabeng verdrink. Hulle wou swem en het in die moeilikheid beland.

Matjhabeng-munisipaliteit sê in ‘n verklaring Hlobohang Mokhoma, die waarnemende uitvoerende burgemeester, het hartseer oor die insident in Thabong uitgespreek. Die konstruksieperseel, ‘n projek van die departement van water en sanitasie, is naby die Setshabelo-skool. Die projek fokus om die rioolnetwerk in Matjhabeng met Vaal Central Water as die implementeringsagent te herstel.

Mokhoma het die families van die kinders saam met nog raadslede besoek en ondersteuning van die munisipaliteit in die moeilike tyd belowe. Rolspelers is versoek om addisionele ondersteuningsdiens, wat sielkundige berading insluit, te verskaf.

“Dit is hartverskeurend om jong lewens op so ‘n tragiese manier te verloor. Hierdie kinders het nie net onskuld verteenwoordig nie, maar ook die belofte van ‘n blink toekoms. Ons deel in die hartseer en is hier om te verseker dat die pyn nie alleen ervaar word nie.”

Daarbenewens is ‘n toegewyde span van Mokhoma se kantoor aangewys om met die wyksraadslid en die gesinne van die oorledenes saam te werk om met die begrafnisreëlings te help.

Hy het hom ook verbind tot deurlopende samesprekings met alle belanghebbendes om veiligheidsprotokolle te hersien en te versterk om toekomstige tragedies te voorkom.

Lindiwe Mnguni, woordvoerder vir die Vaal Central Water Board, sê in ‘n verklaring ‘n groep kinders het naby die uitgrawings gespeel. Twee kinders het in die gat probeer swem en het in die moeilikheid gekom. Een van die ander kinders het hulp van lede van die gemeenskap gevra. Die kinders is uitgehaal en nooddienste is ontbied. KPR is sonder sukses toegedien.

Lees die volledige verklaring hier onder: