NOORDWES. – Dr. Elri du Preez het Saterdag in ‘n kennisgewing gesê daar is tans ‘n toename in bevestigde gevalle van kinkhoes in Brits, met pasiënte van verskillende ouderdomme wat met ’n hardnekkige hoes by dokters aanmeld.
Dr. Elri sê kinkhoes, wat deur die bakterie Bordetella pertussis veroorsaak word, is nie ’n nuwe siekte nie. Sy sê die siekte begin dikwels soos ’n gewone verkoue, met ’n loopneus, nies en ’n ligte hoes. Ná ’n week of twee kan die hoes egter vererger en in intense hoesbuie voorkom. Braking en asemnood kan ná ‘n hoesbui ervaar word, hoewel die kenmerkende “kink” of “whoop” nie altyd teenwoordig is nie.
Volgens Du Preez kan volwassenes en ingeënte kinders soms slegs ’n aanhoudende hoes ontwikkel, wat beteken dat hulle die siekte onbewustelik kan versprei. Jong babas, veral dié onder ses maande en kinders wat nog nie hul eerste reeks inentings gehad het nie, loop die grootste risiko om ernstig siek te raak. Komplikasies kan onder meer asemhalingsprobleme, longontsteking, dehidrasie, hospitalisasie en in ernstige gevalle stuipe of sterfte insluit.
By babas kan die kleinding swak drink, buitengewone moegheid ervaar, asemhalingsprobleme ondervind, blou verkleur om die mond of kort periodes hê waarin hulle ophou asemhaal. Jong babas kan kinkhoes onder lede hê sonder die tipiese hoes. Asemhalingsprobleme, blou verkleuring of asemhalingspouses by ’n baba vereis dringende mediese aandag.
Du Preez benadruk dat kinkhoes nie rede tot paniek is nie, maar dat mense bewus moet wees van die simptome, veral wanneer daar jong babas in ’n huishouding is. Sy raai mense by wie ‘n gehoes erger word of aanhou, om mediese advies in te win, veral as hulle aan kinkhoes blootgestel is.
Hier onder is meer inligting van kinkhoes deur dr. Elri du Preez:
Wat is kinkhoes?
Kinkhoes is ’n baie aansteeklike bakteriële lugweginfeksie. Die bakterie heg aan die selle wat ons lugweë uitvoer en produseer toksiene wat inflammasie veroorsaak en die klein haartjies (cilia) beskadig wat normaalweg help om slym en kieme uit die lugweë te verwyder. Die gevolg is geïrriteerde lugweë en die kenmerkende, aanhoudende hoesbuie. Die lugweë neem ook tyd om te herstel – daarom kan die hoes nog lank aanhou nadat die aanvanklike infeksie reeds verby is. Ná blootstelling neem dit gewoonlik ongeveer 7 – 10 dae voordat simptome begin, maar dit kan tot ongeveer drie weke neem.
Kinkhoes vs griep vs RSV – kortliks
Kinkhoes: ’n bakterie. Gewoonlik min of geen koors, met ’n hoes wat progressief erger word, in aanvalle voorkom en vir weke kan aanhou. Braking ná ’n hoesbui is nogal kenmerkend.
Griep (influenza): ’n virus. Begin dikwels skielik met koors, kouekoors, hoofpyn, lyfseer, erge moegheid en hoes. Jy voel gewoonlik sommer behoorlik siek.
RSV: ’n virus. Begin dikwels soos ’n verkoue. By jong babas kan dit na die onderste lugweë versprei en bronchiolitis veroorsaak, met vinnige of moeilike asemhaling en soms ’n fluitende bors.
Daar is baie oorvleueling, veral vroeg in die siekte, en ons kan hulle nie altyd op simptome alleen van mekaar onderskei nie.
Maar hoekom maak ons so ’n groot ding van kinkhoes?
Vir die meeste ouer kinders en volwassenes is kinkhoes hoofsaaklik ’n baie onaangename en uitgerekte siekte. Die groot bekommernis is egter nie altyd die persoon wat voor ons sit en hoes nie – dit is aan wie hulle dit volgende kan oordra. Kinkhoes is baie aansteeklik, en iemand kan dit reeds versprei wanneer dit nog net soos ’n gewone verkoue lyk. ’n Ouer, broer, suster of ander volwassene met relatief ligte simptome kan dit dus onwetend aan ’n klein baba oordra.
Die herhaaldelike, geweldige hoes self kan by ouer kinders en volwassenes ook komplikasies veroorsaak, soos floute, gebarste klein bloedvaatjies in die oë, neusbloeding, ribpyn of selfs ’n ribfraktuur. Urinêre inkontinensie tydens hoesbuie kan ook by volwassenes voorkom. Dit is dus nie dat elke persoon met kinkhoes ernstig siek gaan word nie. Ons maak ’n groot ding daarvan omdat ’n relatief ligte infeksie in een persoon ’n baie ernstige infeksie in ’n jong baba of iemand met longsiektes kan word.
Wanneer kry kinders in Suid-Afrika die kinkhoes-entstof?
Pertussis-inenting begin reeds vroeg in babatyd. In die Suid-Afrikaanse immunisasieprogram word pertussis-bevattende entstof gegee op: 6 weke → 10 weke → 14 weke → 18 maande → 6 jaar → 12 jaar. Die vroeë dosisse word as deel van ’n kombinasie-entstof gegee wat ook teen ander ernstige kindersiektes beskerm. Dit is belangrik om die boosters op 6jr, 12jr, tydens swangerskap ook te onthou, omdat beskerming teen kinkhoes met verloop van tyd afneem.
Kan jy kinkhoes kry as jy ingeënt is? Ja.
Die entstof bied nie 100% beskerming teen infeksie nie en immuniteit neem met verloop van tyd af. ’n Ingeënte persoon kan dus steeds kinkhoes kry en dit selfs oordra. Dit is ook hoekom dit siklusse van eenjaar in elke 4-5jare voorkom. Inenting verminder egter jou kans om dit te kry en baie belangrik, help beskerm teen ernstige siekte en komplikasies. Ons sluit kinkhoes dus nie bloot uit omdat iemand se inentings op datum is nie.
En tydens swangerskap?
Pertussis-inenting tydens elke swangerskap is een van die belangrikste maniere waarop ons ’n pasgebore baba kan beskerm. Dit gebeur gewoonlik hier rondom 28-38weke swanger. Die ma maak teenliggaampies wat deur die plasenta na haar baba beweeg. Die baba word dus met ’n mate van beskerming gebore vir daardie kwesbare eerste maande voordat sy/haar eie inentings voldoende beskerming opgebou het.
Wat as ek kontak met iemand met kinkhoes gehad het?
Simptome kan eers dae tot weke ná blootstelling ontwikkel. Sekere noue kontakte kan voorkomende antibiotika benodig – veral wanneer daar ’n jong baba, swanger vrou of ander persoon met ’n hoë risiko vir komplikasies betrokke is. Bespreek dit met jou dokter.
“Die inligting wat in hierdie plasing verskaf word, is slegs vir algemene inligtingsdoeleindes en behoort nie ’n konsultasie met jou gesondheidsorgverskaffer te vervang nie.”