MPUMALANGA. – Lt. kol. Piet Pretorius (59) word vandag om 11:00 tydens ‘n roudiens vanuit die Family Life Church in De Bruin Park in Ermelo gegroet. Intussen word na nog ‘n verdagte in sy moord gesoek en is nog misdaadaktiwiteite ontbloot.
Pretorius was die bevelvoerder van die ondersoekeenheid vir voertuigmisdaad (VCIU). Sy skietdood, terwyl hy op 16 Januarie omstreeks 14:00 steeds aan diens en onderweg terug was na sy kantoor, het skokgolwe deur die polisiegemeenskap gestuur. Hy het kort na sy aankoms by ‘n hospitaal aan sy wonde gesterf.
Die polisievoertuig waarin Pretorius gery het, was vol koeëlgate en hy is verskeie kere getref. Aanvanklik is gesê ‘n verdagte het in ‘n wit sedan van die toneel gevlug. ‘n Onmiddellike soektog na die skuldiges is geloods, waarna lt.kol. Jabu Ndubane gesê het ‘n BMW, wat vermoedelik in die misdaad gebruik is, is uitgebrand in Uitbreiding 7, Ermelo, aangetref. Die motor is vermoedelik as die verdagtes se wegkommotor gebruik. Dit is in Oktober 2024 in Calcutta as gekaap aangemeld.

Binne 24 uur na Pretorius se moord is vyf verdagtes, vier mans en ‘n vrou, in Nelspruit (Mbombela) aangekeer. ‘n Voormalige polisiebeampte, Mthobisi Nkosi (40), Aubrey Xaba (35), Skhumbuzo Skhakhane (40), Nyiko Mujovo (30) en Valencia Skhosana (36) het Maandag op ‘n aanklag van moord in die Ermelo-landdroshof verskyn. Al vyf bly in aanhouding. Tydens die inhegtenisneming het die polisie op ‘n blou VW Polo beslag gelê. Die vyf sal weer op 27 Januarie vir ‘n tweede keer in die Ermelo-landdroshof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek en die aanstelling van regsverteenwoordiging vir Muhovo uitgestel.

Lt.kol. Magonseni Nkosi het Dinsdag gevra die Valke het die gemeenskap se hulp nodig om Prince Gift Mdluli op te spoor. Hy kan moontlik met die ondersoek help. Enigiemand wat weet waar hy hom bevind, kan kapt. Jacob Ras by 082 462 0760 bel.

Nkosi sê tydens die ondersoek is nog meer beweerde misdaadaktiwiteite ontbloot. Een van die beskuldigdes is in 2018 van ‘n BMW in Witbank (Emalahleni) beroof. Die geroofde BMW is identies aan die een wat uitgebrand in Ermelo aangetref is. By een van die verdagtes se huise is drie BMW’s aangetref, waarvan een vermoedelik die een kan wees wat ses jaar gelede geroof is. Voorlopige ondersoek het aangedui daar is met die VIN (onderstelnommers) gepeuter. Addisioneel is 50 lisensieskyfies en dokumente op die perseel gevind, sommige gebruik. Die BMW 325i, wat vermoedelik geroof is, sowel as dokumente, is gekonfiskeer en ‘n navraag is vir verdere ondersoek geopen.

Pretorius se moordsaak is vir ondersoek aan die Valke toegewys en meer aanklagte kan soos wat die ondersoek vorder bygevoeg word.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:





