NOORD-KAAP. – ‘n Luitenant-kolonel van die Kimberley-blitspatrollie is hangende die uitslag van ‘n ondersoek geskors sedert ‘n beskuldiging van verkragting teen hom op 26 Augustus aanhangig gemaak is.
Brig. Mashay Gamieldien sê die insident het na bewering op 12 Augustus op De Aar gebeur. Die voorval is dadelik vir ondersoek en inhegtenisneming aan die polisiewaghond, Opod, rapporteer. Interne dissiplinêre prosesse is volgens polisieregulasies ingestel en die offisier is tans geskors.
“Die Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.-genl. Koliswa Otola, het herbevestig dat geen voorkeurbehandeling binne die geledere van die organisasie toegelaat sal word wanneer lede by kriminele aktiwiteite of growwe wangedrag betrek word nie.”
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Luitenant-kolonel (46) in die polisie, verbonde aan die Kimberley-blitspatrollie, word van die verkragting van ‘n minderjarige op 12 Augustus op De Aar beskuldig.
Kol. Cherelle Ehlers sê die insident word deur Opod, die polisiewaghond, ondersoek.
Ehlers sê maj.genl. Luntu Ngubelanga, die waarnemende provinsiale kommissaris in die provinsie, en die bestuur veroordeel enige vorm van kriminaliteit in die polisie, veral waar dit vroue, kinders en weerlose persone behels. Geen polisielid is bokant die wet verhewe nie en daar word van lede verwag om ‘n voorbeeld te wees.