Brekende Nuus
Nuus

Kuberaanvalle op ys- en vrieskaste wêreldwyd ondersoek

Foto: Ter illustrasie

EUROPA. – Supermarkte in verskeie lande is die afgelope weke deur kuberaanvalle op hul verkoelingstelsels geteiken, nadat aanvallers daarin geslaag het om die temperatuur van yskaste en vrieskaste op ‘n afstand te verander. Groot hoeveelhede voedsel moes weggegooi word nadat produkte nie meer veilig was vir verbruik nie. Frankryk, België, Swede, Luxemburg, Ierland, Nederland, Finland, Estland en die VSA het insidente gehad.

Een van die grootste voorvalle het in Oktober in Frankryk plaasgevind, waar honderde supermarkte se verkoelingstelsels deurgeloop het. Die temperature in sommige eenhede het tot sowat 50 °C gestyg nadat aanvallers die stelsels se ontdooifunksies geaktiveer het. Die Franse kleinhandelaarsgroep Les Mousquetaires het aan die ondersoekende nuusorganisasie OCCRP gesê sowat 300 van sy winkels is geraak, met verliese van miljoene euro. ’n Kriminele ondersoek is deur die Parys-aanklaerskantoor begin.

Op 2 November is soortgelyke probleme by supermarkte in onder meer België, Swede, Luxemburg, Ierland, Nederland, Finland en Estland aangemeld. In Swede is vrieskaste by winkels van die ICA- en Coop-kettings geraak, terwyl sowat 40 Delhaize-winkels in België en Luxemburg probleme ondervind het. Carrefour het ook voorvalle by ongeveer 15 winkels in België bevestig, en 13 SuperValu-winkels in Ierland is geraak. Sommige winkels moes verkoelde en bevrore produkte verwyder of weggooi.

Die VSA ondersoek intussen ’n moontlike kuberaanval wat in Augustus voedsel by winkels op militêre basisse laat bederf het. Volgens ’n Amerikaanse amptenaar is ses winkels geraak. By Fort Huachuca in Arizona het ’n vrieskas na die ontdooimodus oorgeskakel en het die inhoud warm geword. Die Pentagon ondersoek die moontlikheid dat die probleme deur kuberkrakers veroorsaak is.

Ook in die Verenigde Koninkryk het vleisverskaffers onlangs berig dat hul verkoelingstelsels geraak is. Sommige eenhede is glo ingestel om gereeld te ontdooi, terwyl ander se temperature verhoog is. Die omvang van die voorval en enige voedselverliese is egter nog nie vasgestel nie. Britse kuberveiligheidsowerhede het kleinhandelaars intussen gewaarsku om hul stelsels te beveilig.

Die aanvalle wys hoe kwesbaar voedselvoorsieningskettings kan wees wanneer verkoelingstelsels aan die internet gekoppel is. Supermarkte gebruik dié tegnologie om temperature op ‘n afstand te monitor en instellings aan te pas. Kuberkrakers wat toegang tot die beheerstelsels kry, kan dus met enkele veranderings groot hoeveelhede voedsel onveilig maak.

Geen groep het tot dusver verantwoordelikheid vir die Europese aanvalle aanvaar nie, en dit is nog nie bevestig of al die voorvalle met mekaar verband hou nie.

Bronne: OCCRP, CNA, Nextgov, The Grocer