Brekende Nuus
Nuus

Man gevonnis oor korrupsieplan met dialise-toerusting

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – Thabiso Steven Mokwana (38) is skuldig bevind en gevonnis nadat hy probeer het om ’n bestuurder van ’n dialise-instelling in Trichardt om te koop om mediese verbruiksgoedere ter waarde van sowat R47 000 te steel. Die Evander-streekhof het hom op 28 Oktober gevonnis, nadat hy op die aanklagte skuldig gepleit het.

Mokwana is ’n boete van R6 000 of twee jaar gevangenisstraf vir korrupsie opgelê. Hy is verder tot 18 maande gevangenisstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis vir sameswering en die aansporing van ’n ander persoon om ’n misdaad te pleeg. Vir diefstal is hy tot nog twee jaar gevangenisstraf gevonnis, ook vir vyf jaar opgeskort.

Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê Mokwana het die bestuurder op 22 Mei 2024 genader en R5 000 aangebied in ruil daarvoor dat hy die dialise-toerusting uit die instelling steel. Die bestuurder het die voorstel by die Secunda-tak van die Valke aangemeld. ’n Beheerde operasie is daarna uitgevoer en Mokwana is in hegtenis geneem nadat die toerusting in ’n Volkswagen Polo gelaai is.

Maj.genl. Nico Gerber, provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, het die ondersoekspan en die bestuurder geloof omdat hy die poging tot omkopery aangemeld het.