Video-opname in berig.
WES-KAAP. – Die departement van binnelandse sake het bevestig dat hy bewus is van ’n voorval tussen ’n kliënt en veiligheidspersoneel by die Tygervallei-sentrum in Kaapstad, nadat beeldmateriaal daarvan op sosiale media versprei is. In die beeldopname kan gesien word hoe die vrou se handsak breek en hoe haar been tussen die deur en die raam vasgedruk word.
Luidens ‘n verklaring van die departement het rekords aangedui dat die betrokke vrou nie ’n geldige afspraak op die besprekingstelsel gehad het nie en dat sy glo mislei is om ’n afspraakgleuf by ’n derde party te koop. Die departement sê dié praktyk is onwettig en uitbuitend. Die teen-korrupsie-eenheid ondersoek tans diegene wat daarvoor verantwoordelik is. Alle afsprake op die besprekingstelsel is gratis en word op ’n eerste-kom-eerste-bedien-basis uitgereik.
Die departement het bevestig dat die private veiligheidswag wat by die voorval betrokke was, verwyder is en dat die omstandighede hersien word om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom. “Niemand behoort só behandel te word wanneer hulle staatsdienste soek nie,” sê die departement.





