WES-KAAP. – Benjamin Leslie May, wat in die Verenigde Koninkryk gesoek word vir sameswering om Klas A-dwelms (kokaïen) te versprei, is uit Suid-Afrika uitgelewer nadat die staat sy borgtogaansoek suksesvol teengestaan het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê in ‘n verklaring die direkteur van openbare vervolgings in dié provinsie, adv. Nicolette Bell, het die uitlewering verwelkom. Die versoek is in Februarie verlede jaar ingevolge die Europese Konvensie oor Uitlewering ontvang ná ’n lasbrief wat in September 2023 in Cardiff uitgereik is. May het glo tussen 2019 en 2020 saam met ander beskuldigdes kokaïen versprei en is verbind met ’n geënkripteerde EncroChat-toestel wat gebruik is om dwelmtransaksies te reël. Sy vingerafdrukke is op ’n sak met kokaïen gevind nadat ’n koerier in Junie 2020 met 12 kg van die dwelm in hegtenis geneem is. May het die VK kort daarna verlaat en hom in Kaapstad gevestig.
Hy is in Februarie 2025 in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief deur die Kaapstad-landdroshof uitgereik is. Die Wynberg-landdroshof het in Mei 2025 borgtog geweier nadat die staat aangevoer het dat hy ’n vlugrisiko is en ’n geskiedenis het van ontduiking van owerhede.
Hy is gisteraand aan die Verenigde Koninkryk uitgelewer om daar tereg te staan.





