GAUTENG. – Arnold Coleske, oftewel grootbaas van Die Kontrak en Bella, sy talentvolle sangeresdogter, het ‘n nuwe weergawe van die countryliedjie Travelin’ Soldier vrygestel. In die hartroerende duet bring die liedjie twee generasies kunstenaars saam.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n verklaring Bella het met haar unieke stem aandag getrek toe sy en Chris Steyn vroeër vanjaar Winter In Die Kaap vrygestel het. Nou wys sy haar vaardigheid met hierdie klassieke internasionale countryliedjie. Pa Arnold is bekend as een van die twee Coleske-broers – Arnold en Ewald. Hy is ook dié Coleske van die Coleske Groep wat verskeie Suid-Afrikaanse sangers huisves, asook Afrikaans is Groot, en streng, maar regverdige beoordelaar op Die Kontrak. Vele sangers se treffers het hulle ontstaan uit Bella se pen gehad.
Travelin’ Soldier is in 1996 deur Bruce Robison, ‘n Amerikaanse countrysanger, geskryf, wat weer in 1999 uitgereik is. Gedurende 2002 is dit deur die Dixie Chicks uitgereik – dit word steeds as ‘n ikoniese opname beskou. Deur die jare is die Travelin’ Soldier ook deur ander sangers opgeneem.
“Met Travelin’ Soldier skep Bella en Arnold nie net ’n nuwe weergawe van ’n geliefde liedjie nie – hulle skep ’n emosionele, generasie-oorbruggende musikale oomblik wat luisteraars gaan raak én onthou.”
Travelin’ Soldier is nou hier op digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify en Deezer beskikbaar.





