KYK: Drie gevalle van gewapende huisroof na mekaar op Kuruman

Lees ook :

KURUMAN. – Inwoners van Kuruman is gewaarsku om ekstra veiligheidsbewus te wees na drie agtereenvolgende huisrooftogte vroeg Maandagoggend. Al drie inbrake het in Fonteinstraat plaasgevind.

’n Verdagte het by die eerste perseel ingebreek terwyl die inwoners tuis was. Hulle het hulself in ’n kamer toegesluit. Ipads en ’n handsak is onder andere gesteel.

Om 4:00 het die verdagte by ’n volgende perseel se venster toegang probeer verkry. Nicolas Diedericks vertel dat hy wakker geskrik het en vir die verdagte gevra het wat hy soek. “Ek het vir hom gesê hy moet weggaan.”

Daar is egter vier skote van buite die venster op Diedericks afgevuur, waarna hy dieper die huis ingevlug het terwyl die verdagte deur die venster geklim het om items te steel. “Hulle het darem bloed op die gordyn gekry,” vertel Diedericks.

Verder het die verdagte volgens ’n buurtwagverklaring toegang tot ’n derde perseel verkry en die inwoners met ’n vuurwapen aangehou. Selfone en kontant is gebuit.

Ettienne Louw, uitvoerende direkteur van NKS Sekuriteitsdienste op Kuruman, sê dit is die eerste inbrake in ’n geruime tyd in daardie omgewing. “Dit wil voorkom dat dit geleentheidsrooftogte was juis omdat klein items gesteel is.”   

“Beeldmateriaal wys dat die verdagte handskoene en ’n mus dra om sy identiteit te beskerm. Die polisie het vingerafdrukke by die onderskeie tonele geneem en is besig om ’n profiel van die verdagte saam te stel.”

Sommige inwoners beweer egter dat huise met verskillende grootte klippe en drankbottels gemerk is, maar dit kan nie as wesenlike bewyse aanvaar word nie.

Veiligeheidsgroepe het inwoners gewaarsku om hulle alarms na te gaan, op padpatrollies in die onderskeie buurte in te skakel en verdagte persone en voertuie te rapporteer. Enigiemand met inligting rakende die voorvalle word gevra om die SAPD op Kuruman te kontak.

Beeldmateriaal van die inbraak:

Bronne: NKS, AfriForum Buurtwaggroep (Kuruman)

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief