KYK: Erewag vir Britney wat organe skenk

Lees ook :

Foto: Johan Ramkat Boer

Britney Lee (19) van Welkom is oorlede na wat as ‘n verkouerigheid begin het. Johan Ramkat Boer (Lee), Britney se pa, het ‘n hartroerende video wat jy hier kan kyk, gedeel.

Britney, die jongste in die gesin, se organe is geskenk in die maand waarin bewustheid vir orgaanskenking aangemoedig word. In die video kan gesien word hoe hospitaalpersoneel by die hospitaal ‘n erewag vir haar staan totdat sy by die teater ingestoot word.

Haar pa sê in ‘n boodskap op sosiale media dat hulle kind se hartjie nou in iemand anders se borskas klop en haar niere kan vir nog ‘n persoon lewe gee. “Ons Heilige Vader is nog altyd in beheer.”

Haar ma, Belinda Petzer, sê haar dogter is haar “hero“.

“Jy is so braaf my engel kind. Jou legende gaan voortleef in soveel mense vir wie jy vandag jou organe skenk. My Brit, ek is so dankbaar en bevoorreg om jou my dogter te noem. Ek was waarlik geseën met ‘n dogter wat soveel respek gehad het vir ander, haarself altyd tweede gestel het, altyd ‘n grappie kon maak, met ‘n hart wat so nederig was, maar wat soveel omgegee het vir haar medemens.”

Haar pa het op sy Facebook verduidelik sy was aan en af siek vir twee maande – gewone griep, verkouesimptome – en het ‘n seer bors gehad. Op 30 Julie is sy hospitaal toe en is teruggestuur huis toe na aan hulle gesê is die borspyne wat sy ondervind het, was ‘n paniekaanval.

Op 8 Augustus is sy weer dokter toe, omdat sy grieperig en moeg gebly het. Sy is huis toe gestuur met Panado’s, hoesstroop en kortisoon. Sy het die aand geëet en gesê sy voel nie lekker nie. Om 21:30 het sy begin braak en van kwaai hoofpyn gekla.

“Van 00:00 af tot 00:30 het Britney se lyfie in skok gegaan. Sy het van die bed afgeval en ek het haar op die vloer gekry met stuiptrekkings en skuim uit haar mondjie. Ons het haar dadelik Ongevalle toe gery en haar suiker is dadelik getoets. Haar telling was 57 en sy het in ‘n diabetiese koma geval. Sy is dadelik ICU toe geskuif om behandeling te begin. Alhoewel sy te veel beweeg het en ophou asemhaal het, het sy steeds ‘n sterk polsslag gehad. Sy is toe op ‘n ventilator gesit. Haar suiker is onder beheer gekry, maar die personeel kon haar nie wakker kry nie. ‘n Breinskandering is gedoen, wat gewys het die brein is geswel. Hulle het dadelik die neurochirurg gekry en ook met behandeling begin. Sy is deur die aand gemonitor.”

Johan verduidelik omdat sy so lank siek was, het die laaste griepsimptome haar lyf in ‘n toestand van skok gesit. “Haar DNA het ‘geswitch‘ wat beteken haar lyf het in erge skok gegaan en haar pankreas wat insulien produseer, het ophou werk. Daarom was sy in so ‘n toestand. Dit gebeur met 1 tot 2% volwassenes om tipe 1 diabetes te kry, so dit is baie, baie skaars. Die infeksietelling was baie hoog, en dit het die swelling op die brein veroorsaak.”

Op 19 Augustus is Britney breindood verklaar. Haar organe is op 22 Augustus geskenk. ‘n Gedenkdiens word op 25 Augustus vir haar in Welkom gehou.

Britney laat haar pa, ma Belinda, twee sussies, Brenda en Belinda, en uitgebreide familie agter.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App