BOKSBURG, GAUTENG. – Boksburg se dierebeskermingsvereniging het Maandag ’n hond suksesvol uit ’n oop mangat gered.
Die voorval is deur ’n man wat verby die mangat gestap het, aangemeld. Hy het die hond toevallig gesien toe hy huis toe stap.
Die tefie het 5 m af in die mangat opgekrul in ’n hopie gelê. Hulle was eers onseker of sy beserings het. Lede van die DBV het ’n leer in die gat laat afsak en die hond met ’n sagte kombers bedek omdat sy na hulle gehap het. Daarom is sy “Snappy” gedoop.
Sy is veilig na bo gelig en in ‘n hok geplaas. Volgens ’n verbyganger was sy reeds Saterdag in die mangat en het inwoners vir haar kos gegooi.
Die eienaar van die hond wie se naam eintlik Kaycee is, is opgespoor deur middel van die video oor die redding wat die DBV op hulle Facebook-blad geplaas het. Hulle is herenig.
Kyk hier na die video oor die redding.
Bron: Boksburg SPCA Facebook





