MPUMALANGA. – Die vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Stasie 35 by Witbankdam het Donderdag twee internasionale toekennings ontvang vir die redding van vier mans wat langer as vier uur in die water aan ’n skiboot op die rand van die Grootdraaidam se oorloop vasgeklou het. Die Internasionale Maritieme Reddingsfederasie (IMRF) het die span by sy konferensie in Saint-Malo, Frankryk, vir sy uitstaande bydrae tot soek-en-reddingsoperasies vereer. Die vrywilligers het ook die publiek se keusetoekenning in ’n aanlyn stemming gewen. Kyk na die dramatiese vertelling en opnames van die insident hier onder.
Mike Vonk, NSRI- uitvoerende hoof, sê elke vrywilliger by die stasie deel in die erkenning. Die redding het op die aand van 29 Desember 2025 naby Standerton plaasgevind nadat die skiboot se enjin onklaar geraak het. Wind en die stroom het die boot tot op die rand van die oorloop gedryf, sowat 40 m bokant die Vaalrivier. Die dam het ná swaar reën oorgeloop. Noodspanne op die toneel kon nie die mans veilig bereik nie. Die departement van water en sanitasie het sluise oopgemaak, wat gehelp het om die boot op sy plek te hou.
Stasiebevelvoerder Travis Clack en sy span het hul reddingsboot sowat 140 km van Witbankdam af gesleep en dit ná donker te water gelaat. Riaan Reijsbergen, ’n plaaslike inwoner, het hulle oor die dam gelei. By die oorloop het Clack geoordeel dat die skiboot kon kantel as hulle die mans een vir een probeer red. Francois du Randt het ’n lyn met ’n reddingsboei na hulle gegooi. Al vier het die lyn om hul arms gedraai. Clack het die reddingsboot agteruit gestuur om hulle van die rand af weg te trek terwyl Du Randt en Jacoline Enslin die lyn voor op die boot hanteer het. Die vier mans is met hipotermie, maar sonder beserings, aan wal gebring. Stasie 27 se reddingsboot het deurgaans by die tewaterlatingsplek gereed gestaan.
Clack sê die toekennings gee erkenning aan die ure wat vrywilligers week ná week aan opleiding bestee, asook aan die families wat hulle ondersteun. Hy het ook Reijsbergen, die departement en die NSRI se Stasie 27 in Gauteng bedank.