GAUTENG. – Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het die gedrag van die ouers van ‘n kleuter skerp veroordeel nadat ‘n video op sosiale media versprei is waarin gesien kan word hoe die kleuter aan ‘n pyp met ‘n onbekende stof in ‘n gebreekte botteldoppie rook.
Die departement het voorts die inhegtenisneming van die ouers verwelkom en gesê dit is ’n belangrike stap in die beskerming van kinders se regte. “Ons veroordeel hierdie onverantwoordelike en gevaarlike gedrag in die sterkste moontlike terme,” het die departement in ’n verklaring gesê. Daar word saam met relevante wetstoepassingsagentskappe en kinderbeskermingsorganisasies gewerk om te verseker dat die kind die nodige ondersteuning ontvang en dat toepaslike optrede teen die betrokke ouers geneem word.







