Foto’s en video in berig.
KWAZULU-NATAL. – Die oorlede kaptein, Louis Cornelius Nel, is Vrydag in die Durban Christian Centre Jesus Dome gegroet. Thami Ntuli, die premier van KZN, het as uitvoerende gesag vir die Departement van Gemeenskapsveiligheid en Skakeling namens die polisie die gestorwene vereer. Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi het aan Nel se familie belowe dat hy die verdagtes sal opspoor wat vir sy dood verantwoordelik is – lewendig of dood. Hy het gesê hy weet uit ondervinding watter eise die beroep stel en hy verstaan die diepgewortelde woede wat Spesiale Taakmag-lede tans ervaar.
Nel is op 30 April oorlede nadat hy en ‘n mede-offisier by Mount Edgecombe in ‘n koeëlreën beland het. Die twee was aan diens toe hulle in ‘n hinderlaag gelok is. Nel se kollega, wat ook geskiet is, is steeds in ‘n hospitaal.
Ntuli het daarop gewys dat die dood van ‘n polisiebeampte verder strek as net die gesin alleen. Die hele land dra die verlies, want dit is offisiere soos Nel, met buitengewone vaardighede en onwrikbare toewyding, op wie gewone Suid-Afrikaners elke dag vir hul veiligheid staatmaak.










